Wiel pap; polisie nie na beroofde gesin
2010-05-31 22:22
Die Boschkop-polisiekantoor buite Pretoria het weens ’n pap wiel nie gereageer toe ’n enkelouer en haar twee kinders deur rowers in hul huis oorval is nie.
Twee uur ná die voorval Vrydagoggend – en nadat die Bronkhorstspruit-triotaakspan die toneel ondersoek het – het lt.kol. Gavin The-Kisho, stasiebevelvoerder, me. Luna Davel (35) van Donkerhoek op die toneel om verskoning gevra vir sy polisiekantoor se optrede.
Ao. Marinda Stoltz, polisiewoordvoerder, het gister bevestig die skofvoertuig het ’n pap wiel gehad.
Toe die lede die wiel wou omruil, het hulle gesien die noodwiel is gesteel.
Die ander skofvoertuig was by die polisie se motorhawe, terwyl die sleutel van ’n derde voertuig wat by die polisiekantoor gestaan het nie gevind kon word nie.
“’n Pap wiel is nie ’n verskoning om nie op te daag as mense beroof is nie,” het Stoltz gesê.
“Die lede kon ’n ander polisiekantoor of selfs die radiobeheer gevra het om te help.”
Davel het gister gesê sy het omstreeks 02:00 wakker geword toe haar kamerdeur oop- en toegaan.
Toe die deur weer oopgaan, het sy besef daar’s moeilikheid.
Vier mans, van wie twee ’n moersleutel en ’n knuppel gehad het, het die kamerlig aangeskakel.
Oomblikke later het Davel se dogter, Shané (9), wat langs haar gelê het, wakker geword en begin skree.
Davel het haar stilgemaak.
Die rowers het Davel vasgebind en haar aanhoudend gevra na die kluis, vir juwele, vuurwapens en geld.
Hulle het die huis omgekeer.
Davel se seun, Landré (6), het bly slaap.
Die rowers het sy kamervenster se diefwering gebreek en oor sy bed se voeten-ent geklim.
Hulle het sy duvet gesteel, maar hy het nie wakker geword nie.
Ná sowat ’n uur het die rowers gevlug en Shané het haar ma losgemaak.
Hulle het gehardloop na Davel se ouers, wat sowat 100 m van hulle bly.
Hier het Davel mnr. Wim van den Bosch van die plaaslike buurtwag gebel.
Van den Bosch – wie se ouers, Johan (63) en Cobi (60), verlede jaar vermoor is op hul hoewe in Mooiplaats in die ooste van Pretoria – het nog ’n lid van die gemeenskap gebel.
Dié het die Boschkop-polisiekantoor gebel – sonder welslae.
Van den Bosch het ’n lid van die Bronkhorstspruit-triotaakspan gebel wat binne minute op die toneel was.
Volgens prosedure moet ’n polisiekantoor gebel word wat, nadat hulle op ’n toneel was, die taakspan laat weet as dit ’n huis- of sakeondernemingrooftog of ’n kaping was.
Twee uur later het The-Kisho op die toneel aangekom.
“Dit is baie swak van die polisie. Hoe sou hulle opgetree het as ons iets oorgekom het?” wou Davel weet.