W’kloof-2: DKD misluk
2012-02-10 22:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die departement van korrektiewe dienste (DKD) appelleer teen sy eie sukses.
Só het streeklanddros Peet Johnson gister gesê toe hy die DKD se aansoek om verlof tot appèl teen die omskakeling van vonnis van twee van die sogenaamde Waterkloof-4 van die hand gewys het.
Hy het die aansoek om dié rede as “baie vreemd” beskryf.
Johnson het ook beveel dat die DKD Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk se regsverteenwoordigers, wat senior advokaat Jaap Cilliers insluit, se regskoste betaal.
“Die kommissaris het die twee gevonniste persone met koste belas terwyl hulle nie eens partye in die oorspronklike aansoek was nie,” het hy bevind.
Die DKD het in Januarie ’n aansoek om verlof tot appèl by die streekhof geliasseer.
Tiedt en Van Schalkwyk se vonnisse van 12 jaar tronkstraf op aanklagte van moord en aanranding is op 15 Desember omgeskakel na een van korrektiewe toesig.
Dít het gevolg nadat die paroolraad van die Zonderwater-gevangenis, waar die twee aangehou is, ’n aansoek om vonnisomskakeling gebring het.
Cilliers het gister betoog dat die DKD se aansoek foutief was omdat dit onder meer Johnson en die twee jong mans as respondente aandui, terwyl Johnson die voorsittende beampte is, en Tiedt en Van Schalkwyk nie die omskakelingsaansoek gebring het nie.
Johnson het in sy uitspraak gesê hy het Van Schalkwyk en Tiedt se vonnisse in Desember heroorweeg en omgeskakel op sekere voorwaardes.
“Dit beteken geensins dat hulle nou vry is nie. Hulle is steeds onderworpe aan straf.
“Die doel van die DKD is om oortreders te rehabiliteer.
“In dié geval is hulle as geskikte kandidate bevind.
“Die vonnisomskakeling is met ’n histeriese protes van sekere regslui, kommentators en die opposisieparty begroet.
“Wat verrassend is, is dat die meeste van hulle nie in die hof was tydens die aansoek óf die hof se uitspraak gelees het nie,” het Johnson gesê.
Hy het die DKD se oorspronklike weiering om Tiedt en Van Schalkwyk vry te laat as “skokkend en minagtend” beskryf.
Die departement het selfs geweier om te voldoen aan ’n hooggeregshofbevel dat hulle vrygelaat moet word.
“As die regering hofbevele verontagsaam, hoe kan ’n mens van die publiek verwag om dit te gehoorsaam?” het Johnson gevra.
Hy het gesê hy vermoed die DKD wou eintlik ’n hersieningsaansoek bring, maar dít moet in ’n hooggeregshof aangehoor word.
“Dit blyk dat die kommissaris deurmekaar is. Die hof is in die duister oor wat sy eintlike intensie is.”
Johnson het bevind ’n paroolraad word deur die minister beheer, nie die kommissaris nie.
“Die raad se besluite is finaal, behalwe as die minister of kommissaris ’n besluit na die paroolhersieningsraad verwys.”
Johnson het dit “raaiselagtig” gevind dat die kommissaris nou glo hy het die reg om aansoek om verlof tot appèl teen die paroolraad se suksesvolle aansoek te bring.