Zuma kry bul present by Boertjiefees
2010-09-05 22:21
Bultfontein. – Pres. Jacob Zuma het nou self ’n aandeel in ’n Vrystaatse boerdery en gaan gereeld op die Boertjiefees kom kuier.
Sy eie stoet-Bonsmara-bul met ’n mooi Zoeloe-naam moet die versies hier kom dek.
Die hoop is dat ’n ryk oes kalwers simbolies sal wees van die verbintenis tussen hom en dié gemeenskap.
Zuma het gesê hy wil elke Boertjiefees bywoon en dan bly “vir boertjiekos, vir pap en vleis”.
Hy het sy besoek aan KwaZulu-Natal onderbreek en per lugmaghelikopter na die dorp gevlieg om die Boertjie-kontreifees te open.
“Dit is vir my vandag belangrik om opregte mense te ontmoet wat dinge laat gebeur. Julle boere is sulke mense,” het hy gesê aan die boere wat na die swart gemeenskap uitgereik het.
Die land kan by die boere kom leer. Hulle kla nie, maar doen dinge en help om voedselsekerheid te verseker, het hy gesê.
By die ontvangs van sy Bonsmara-bul van R40 000 het hy die bul die naam Nsuze gegee, ’n rivier wat deur sy stat Nkhandla vloei.
Die bul is deur mnr. Jan Pienaar van die plaas Koppieland geskenk.
“Dit is beter om hande te vat as om te boks. Dis ’n groot voorreg,” het Pienaar gesê.
Mnr. Herman Meiring, voorsitter van Bultfontein-Landbou, het gesê die president is welkom om jong mans van sy stat te stuur om hier opgelei te word.
Meiring het net nadat Zuma se bul oorhandig is, sy hand om die president se skouers gesit en hom indringend toegespreek.
“Die versies en die bul wat ons geskenk het, bly hier by ons.
“Iemand wat graag wil boer, moet gekeur word. Hy moet ’n landbou-agtergrond hê. Dan word hy by die munisipaliteit se meentgronde, waar die bul en versies gaan loop, opgelei.”
Bonsmara SA gaan deel word van die projek om die boere op te lei.
Die boere gaan lusern by die rioolaanleg vestig en die nuweling-boere in die kweek van lusern oplei.
Meiring het gesê die gemeenskap pluk met Zuma se besoek die vrugte van harde werk.