‘Arende’ se Sloet Steenkamp beleef verdere avonture
2009-10-18 22:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Paul C. Venter, skepper van die destydse TV-reeks Arende, vat sy hoofkarakter, Sloet Steenkamp, se avonture verder in ’n roman wat pas verskyn het. Hier is ’n uittreksel uit Die rebellie van Sloet Steenkamp.
Dis die jong Nama wat so ’n ent vooruit ry, die een wat die bergpaadjie die beste ken en flink soos ’n meerkat rondkyk.
Hier voor Sloet hou Stuurman sy perd in. “Wat nou, Achtung?”
“Die berg raak los, Profeet,” antwoord Achtung. “Daar’t klippe op die pad geval.”
“Kan ons om die klippe?”
“Pad’s bietjie aan die nou kant, Profeet. Ons moet hulle liewerster wegrol.”
“Kopbeen, Slagveld,” beveel Stuurman. “Gaan help vir Achtung.”
“Soos onse Profeet wil,” sê Kopbeen traag. Slagveld hou sy mond.
Die twee klim van hulle perde af en skuifel versigtig verby Sloet op Lospens. Die paadjie is behoorlik nou, regop berg aan die een kant en ’n swart afgrond aan die ander kant. In die sterlig blink die kranse bokant hulle soos yster.
“Moenie te mooi trap nie, kêrels,” terg Sloet. “Ek wil sien hoe val Kopbeen hom heeltemal geraamte.”
“As dit onse Profeet behaag,” sê Kopbeen. “Met die Boer se hande by maak ons gouer klaar, die ding sit tog net hier en piep soos ’n kuiken.”
Stuurman se gesig is ’n donkerte onder sy hoed. “Ja, maak die ding los. Kom, Steenkamp, sweet is goed vir die koue.”
Kopbeen gryns en maak Sloet los. Sy hande vonkel soos die lewe terugkom. Hy gly styf van die muil se rug af. Slagveld staan reg met sy geweer.
“Waarheen dink jy gaan ek, Slagveld? Lyk dit of ek kan vlieg?”
“Toe, toe, julle mors onse tyd,” grom Stuurman. “Ons moet voor hoogson hier uit ...”
Daar is geen waarskuwing nie. Klippe rol nie voor die tyd nie, die berg sidder nie. Die wilds-paadjie onder Stuurman en sy perd gee net pad.
“Achtung!” gil Stuurman.
Miskien, in die waansin van die skok, dink hy dit is jong Achtung se skuld dat hy en sy perd meteens in stof en ’n gekners van klippe val.
Dis net-net of Achtung val ook; hy ruk sy perd op die oorkantste rand van die gapende skeur af weg.
Sloet sien nie hoe Achtung homself red en die Vannermerwes wegskarrel nie; hy sien net hoe val Baäl Stuurman.
En hy dink nie, dóén net: hy duik agter Stuurman aan, sy hande soos kloue om te gryp.
Hy tref die kant van die skeur met sy maag en sy hande gryp voor hom in die diepte, kry iets beet, iets glad wat soos leer voel. Die lang platriem van Stuurman se waterkantien. Hy kan niks in die donkerte en stof sien nie, maar dit moet die kantien se riem wees. En dis aan Stuurman se lyf vas en die vloeksteen is swaar.
Sloet word die afgrond ingetrek. Hy skuur oor los klippe, probeer met die punte van sy skoene aan iets vashaak, maar daar is oral net los klippe, hy bly nader en nader aan die afgrond skuif.
Iewers in die stof skree Stuurman in kliktaal.
Sloet moet los en hy weet dit, hy moet die platriem los voor dit te laat is, nog net sy bene is bokant die afgrond, klippe steek deur sy broek in sy knieë, miskien is dit klaar te laat.
Arms slaan om sy bene.
“Ek hou vir jou, Boer!” skree Kopbeen. “Hou jy onse Profeet!”
“Ek hou hom!” skree Sloet terug.
En toe, uit die stofwalm hier onder Sloet, klink Stuurman se stem kortasem en benoud op: “Julle hou vir my, maar wie hou vir julle?”
Kopbeen skree weer, Sloet kan nie uitmaak wat nie. Dit lawaai nou te erg daarbo; dit klink of die hele kommando op die smal wildspaadjie saambondel en dis nie moontlik nie. Hier onder Sloet bly die swaaiende Profeet ook nie stil nie: hy probeer in Duits sing. Psalm drie en twintig, die vierde vers. Sy stem is hees en fluitend, hy sukkel om asem te kry.
Die platriem sny in Sloet se greep. Hy voel hoe sleep Stuurman hom sing-sing die afgrond in.
En nou gly Kopbeen saam oor los klippe, en hy bly aan Sloet se bene klou.
“Boetie!” styg Kopbeen se kreet bo die lawaai uit.
Slagveld antwoord: “Hulle bring tou, Ouboet! Hou, hou, ek’s nou-nou by julle!”
“Nie nou-nou nie, nóú!” Kopbeen gil soos ’n vroumens.
Die dik stof uit die afgrond wil Sloet laat nies. Hy probeer om nie asem te haal nie. Dit voel asof daar knoppe aan sy nek en agter sy ore swel. Dit voel of sy kop gaan ontplof.
“Boetie Slagveld, ek smeek vir jou!”
“Ek kom, Ouboet, ek kom!”