Beurs vir jong regisseurs
2012-02-01 22:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Gordon-instituut vir uitvoerende en kreatiewe kunste wag tans op aansoeke vir die 2012-beurs vir opkomende regisseurs.
Die beurs bied aan ’n opkomende teaterregisseur ’n mentor, ’n klein begroting, repetisieruimte vir ’n maand en ’n week se opvoertyd in die Theatre Arts Admin Collective-teater in Observatory in Kaapstad.
Regisseurs word aangeraai om bestaande tekste te gebruik omdat die maand nie genoeg tyd is vir nuwe werk nie.
Vorige wenners van die beurs sluit in Amy Jephta, Tara Louise Notcutt, Asanda Phewa, Leopold Senekal, Pusetso Thibedi, Kim Kerfoot en Tsepo wa-Mamatu.
Dit is die enigste beurs van sy soort in die land wat spesifiek op regisseurs fokus wat ’n loopbaan as teaterregisseur wil volg.
Die beurse sal aan twee wenners oorhandig word en oor die volgende tydperke loop: van 11 April tot 19 Mei en van 20 Junie tot 27 Julie.
Daar word van al twee beurswenners verwag om deel te neem aan die drie dag lange samesprekings wat aan die einde van Julie plaasvind.
Belangstellendes kan ’n kreatiewe planvoorstel saam met ’n CV en twee verwysings stuur na artsadmin@mweb.co.za teen 17 Februarie.