Deaver, Jeffrey Deaver. Superskrywer
2011-06-05 21:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Carte Blanche
Jeffery Deaver
HODDER & STOUGHTON, R190
“Gene,” sê die netjies geklede man. “Gene Theron.” Nee, dis nie Charlize se broer nie. Dis James Bond wat vir hom ’n plaaslike skuilnaam kry wanneer hy in Kaapstad sy draai maak.
“Gene Theron” is ’n Durbaniet en soos baie Durbaniete met ’n Afrikaanse van kan hy nie eintlik Afrikaans praat nie. Wat James Bond pas. Hy laat knal ’n “dankie” en almal glo sommer hy’s ou Gene Tron van Durbs.
Presies wat James Bond in Kaapstad kom doen, is een van dáái dinge. Dis ’n neukspul wat in Serwië begin. Daarna sny hy spore van Londen na Dubai en vandaar na Kaapstad. En in Kaapstad het hy ’n geloofwaardige nom de guerre nodig. Gene Theron. Die mense met wie hy te doen kry, is ou bekendes: M, Moneypenny, Mary Goodnight en Q.
Q sorg dié slag vir iets wonderbaarliks: die iQPhone. Dié een kom met ’n paar apps wat jy nie by iTunes gekoop gaan kry nie.
Die poppies is hierdie keer Ophelia (Philly) Maidenstone, Felicity Willing en ons eie Bheka Jordaan (pa was ’n Boer, ma ’n Zoeloe).
Almal dodelik soos môre die heeldag (en dít ná vannag!). Gelukkig is hulle aan James Bond (en Gene Theron) se kant.
Die aartsskurk is Severan Hydt, ’n man wat die verwydering van vullis verhef het tot ’n internasionale bedryf. En meer. Hy het ’n handlanger, Niall Dunne. Dit is hy wat Bond uiteindelik metaangas laat ruik langs die N7 op pad na Malmesbury en teen die hange van die Twaalf Apostels laat klouter asof hy vandag se kind is.
En dít is die punt. James Bond, in die hande van Jeffery Deaver, is weer vandag se kind. By wyse van spreke, want hy is iewers in sy 30’s. Wat Deaver gedoen het om James Bond nuwe lewe te gee, is ’n prestasie van slim skryfwerk en ’n verbeelding wat die kodes van die spioenasie-genre goed verstaan.
Diegene wat soos ek Ian Fleming se James Bond-romans gehad het om die vlamme van puberteit hoog te laat brand, sal onthou dat dit dunnerige boekies was, geskryf in ’n onverbeterlike styl wat feitlik net so oorgedra is aan die silwerdoek se Bond.
Ná Fleming se dood het ander skrywers die tradisie voortgesit: Kingsley Amis (as Robert Markham), John Gardner, Raymond Benson, Sebastian Faulks. Gardner en Faulks was die beste onder hulle. Bygesê, met elke nuwe skrywer het die boeke aan omvang gewen. Faulks se Devil May Care (2008) was 276 bladsye lank en Carte Blanche beslaan 432 bladsye.
Parallel met die boeke het die Bond-flieks ontwikkel van stylvolle aksieflieks met ’n stewige lading slim humor tot groteske tong-in-die-kies-extravaganzas.
Die laaste twee, Casino Royale en Quantum of Solace, was gode sy dank ernstiger en meer geloofwaardig en hulle benader Bond met dieselfde erns as Deaver.
’n Mens het baie rede om te vermoed dat daar weer ’n sameloop van boek en rolprent gaan kom en ek sal nie verbaas wees as dit met Carte Blanche gebeur nie.
Deaver skets hoe M hom gewerf het en verklap meer oor Bond se ouers en sy binnelewe. Trouens, baie lesers sal verbaas wees as hulle agterkom Bond is ’n Ware Heer en baie sensitief vir ’n vrou se diepste gevoelens.
Maar … hy is ook die bobaas-spioen en kan dit nie hanteer dat mense onnodig doodgemaak word nie.
Hy drink nog vodka-martini, ry nou in ’n Bentley en dra pasgemaakte klere uit die buurt van St. James.Niks het verander nie, en alles het verander. Maar ’n mens bekyk Jeffrey Deaver nou met ander oë.
Superskrywer.
– Kerneels Breytenbach, vryskutjoernalis en skrywer.