Boeke: Dele is minder as hele roman
2010-08-29 21:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Other Lives deur André Brink. Umuzi. R170
Sedert sy debuut in die 1950’s publiseer André Brink feitlik elke twee jaar ’n nuwe roman en dié roman word dan ook in Engels vertaal en oorsee versprei.
Die Afrikaanse voorganger van die roman onder bespreking het in 2008 as Ander lewens verskyn.
Die eerste deel van die roman wat hier aangebied word, The Blue Door / Die blou deur is ook apart uitgegee.
Dié gedeelte herinner ook sterk aan Brink se bekende kortverhaal “Dertien”, wat in Die Afrikaanse kortverhaalboek gekanoniseer is.
Other Lives bestaan uit drie dele en die karakters en gebeure oorvleuel met mekaar.
In die eerste gedeelte gaan David le Roux na sy ateljee agter die blou deur om te skilder, maar bevind hom dan feitlik in ’n parallelle universum waar hy met ’n ander vrou getroud is en kinders het.
Op ’n byna surrealistiese grondslag verkry die verhaal mettertyd ’n ander dimensie wanneer dit nie meer blou is nie, maar geel.
David le Roux en sy vrou Sarah die fotograaf woon byvoorbeeld een van Derek Hugo, die konsertpianis in die derde deel, se konserte by.
Toevallig verwys Derek ook na David se “wonderful blue paintings” (178).
Die tweede deel, “Mirror”, neem ’n opmerking van Nadine Gordimer as uitgangspunt en besin oor wat sou gebeur as die argitek Steve een oggend ontdek hy is swart.
Ten spyte hiervan reageer almal sienderoë om hom asof hy steeds verteenwoordigend is van ’n anonieme identiteitlose swart massa.
Dit is net die blonde Europese kinderoppasser wat sy nuutgevonde swart viriliteit fetisjeer.
In “Appasionata”, die derde deel, kry ons met Derek Hugo te make.
Hy is versot op die operasangeres Nina Rousseau – byna nes Brink op Netrebko – en die verhaal bereik sy klimaks op haar ou, verlate familieplaas naby Tulbagh.
Gestimuleerde versus binnedringende seksualiteit vorm die grondslag van hierdie gedeelte.
Alhoewel dit deels gemotiveer word, het ek die aframmeling van musiekterme soos ’n bladsy van die internet af gevind.
Die storie is net te kort in omvang om so belas te word. (En ek twyfel nie vir ’n oomblik aan Brink se musiekkennis nie!)
Nina verteenwoordig ’n vampieragtige figuur wat reeds twee vorige geliefdes aan die dood moes afstaan en gevolglik wil sy nie by Derek betrokke raak nie.
Aan die einde van die verhaal word haar dye inderdaad verswelgende objekte wat hom vasdruk en nie wil laat gaan nie.
Wat wil Brink met hierdie driedelige teks sê? Impliseer dit dat elkeen van ons ’n bepaalde alter ego of skaduweefiguur het wat smag om uit te breek?
Vrees ons die oopstoot van die blou deur?
Hierdie kwessies word verken teen die agtergrond van Kaapstad en omgewing en byvoorbeeld die restaurantaanval in “Mirror” lewer direkte sosiaal-politieke kommentaar op die eietydse realiteit.
Myns insiens is hierdie drie dele op sigself elk ’n roman werd en daarom vind ek die geheel onbevredigend.
Die teks wek die indruk dat ons hier met drie los vingeroefeninge of oefenlope tot drie romans het en dat die redigerende hand van die outeur hulle toe so gemanipuleer het dat hulle ewe skielik een teks moet vorm.
Die nate bars te wyd oop en is te opsigtelik.
Veral ook die middelste teks kon meer ontgin word, want nou lees dit net soos ’n kort illustrasie van Gordimer se opmerking.
Dit laat te veel vrae onopgelos.
Ek sien uit na die volgende vollengte-roman deur Brink.
Crous doseer Afrikaans aan die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth.