Boeke: Jongste oor Bybel se ontstaangeskiedenis
2010-09-05 22:24
Die God van Genesis … drama in die amfiteater van die Oneindige … deur Willie Esterhuyse . Christelike Media Publikasies. R130.
Onlangs was daar weer in Afrikaanse koerante ’n “skepping vs. evolusie-debat” waarin heelwat Afrikaanse briefskrywers teen die “leuen van evolusie” uitgevaar het.
Baie mense wat dié twis gevolg het, sou tereg afgelei het dat talle Afrikaanse kerkmense nog die eerste paar boeke van Genesis letterlik lees en onkundig is oor dinge wat dekades reeds in die gematigde hoofstroom van die kritiese Bybelwetenskappe bekend is en aanvaar word.
Mens wonder hoekom dié onkunde hoegenaamd nog bestaan.
Daar was deur die jare verskeie boeke wat die argeologiese en filologiese insigte oor die Bybel se ontstaan vir gewone mense in gewone taal bekend gemaak het.
Boonop leer omtrent alle teologiestudente van die hoofstroomkerke dié dinge aan die universiteit.
En tog lyk dit of die kennis van die Bybel se ontstaangeskiedenis steeds nie aan Jan Kerkpubliek en sy maat bekend is nie.
Willie Esterhuyse se Die God van Genesis is die jongste poging om iets aan dié leemte te doen.
Die boek bespreek die eerste paar hoofstukke van Genesis aan die hand van bronne wat algemeen in die akademie aanvaar word (sommige al byna 100 jaar lank, ander meer onlangs) en maak dan allerlei filosofiese gevolgtrekkings waarby mens nie noodwendig met ’n naïewe lees van die teks sou uitkom nie.
Esterhuyse se boek verskil van vorige pogings om die Bybelwetenskappe in Afrikaans toeganklik te maak.
Dit is byvoorbeeld minder teologies as dié van Ferdinand Deist, minder histories as dié van Sakkie Spangenberg.
Sy boek is eerder ’n mitologiestudie en hy takel die Bybelteks met baie dieselfde gesindheid as waarmee ’n Victoriaanse klassikus Homeros dit sou benader – met ontsag, deernis en ’n entoe-siastiese ywer om morele stigting daarin te vind.
Hy verklaar prontuit en herhaaldelik dat hy die tekste van Genesis as “mites” beskou.
En met mite bedoel hy nie neerhalend nie, dit is “singewende stories” wat betekenis aan die lewe verskaf.
Sodoende gaan hy ’n tree verder as in sy vorige boek, God en die gode van Egipte, waarin hy (in teenstelling met die meeste geleerdes regoor die wêreld) soms nog die indruk gewek het dat hy Genesisverhale soos dié van Josef in Egipte as letterlike geskiedenis beskou.
As ’n voorbeeld van sy werkwyse kan mens kyk hoe hy die verhaal van Kain en Abel benader.
Hy vertel vlugtig die storie, maak ’n paar filosofiese opmerkings, en vertrek dan op ’n oorsig van die navorsing.
Eerstens antieke interpretasies, soos Philo van Alexandrië wat Kain en Abel as allegories vir die stryd tussen egoïsme en liefde gesien het.
Dan ouer moderne Bybelgeleerdes soos Ehrenzweig, wat in die vroeë 20ste eeu verbande tussen dié verhaal en dié van Romulus en Remus wou trek, Stade wat die verhaal as ’n antieke geskiedenis van die Keniete wou lees en Wilhelm Vischer wat in 1929 beweer het Kain en sy afstammelinge was die historiese grondleggers van die geloof in Jahwe.
Volgende takel hy die tradisionele resepsie van die teks en in dié geval selfs ’n ou Afrikaanse prediker wat Kain se swak offer in sedepreke ingewerk het oor mense wat te min kollekte betaal.
En uiteindelik spring Esterhuyse self as filosoof in.
Hy bring die teks in verband met Thomas Hobbes se skrywes oor mense se neigings tot geweld; en later die verhouding tussen mag en moraliteit.
Dit is in dié hoofstuk dat Esterhuyse ook by die punt uitkom wat aan die begin van hierdie resensie vermeld is.
Nadat hy sy jeug lank sedepreke oor Kain en Abel gehoor het, asook allerlei interpretasies gegrond op die idee dat Kain en Abel letterlik bestaan het, het hy as student in Nederland vir die eerste keer ’n preek gehoor wat die teks as mitologiese waarheid hanteer het.
“Daar het dié dag vir my ’n groot lig opgegaan. Ek het toe ook vir die eerste keer besef dat daar soms ’n groot kloof bestaan tussen wat gepreek word en dit wat nagevors is; tussen ‘preekstoelteologie’ en ‘leerstoelteologie’.”
Indien daar ’n omstredenheid ontstaan oor Esterhuyse se (eintlik régtig onomstrede) aansprake dat Genesis nie letterlik waar is nie, is dit bovermelde kloof wat daarvoor blameer moet word.
Alles wat Esterhuyse skryf, word reeds jare lank aan die meeste teologiese fakulteite aanvaar en gedoseer.
De Villiers is ’n Rapport-redaksielid en het sy MPhil in klassieke Hebreeuse letterkunde gedoen.