Cohen se ‘ou idees’ verlei opnuut, is springlewendig

2012-02-10 22:01

Leonard Cohen

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Op ’n vraag op ’n mediakonferensie oor hoe hy sy nuwe album sou ontleed, was Leonard Cohen reg met ’n antwoord: “It’s probably not a good idea to do an autopsy on a living thing.”

Dus is hierdie bespreking van Old Ideas nie ’n intellektuele post-mortem nie. Want op die rype ouderdom van 77 is die legendariese Cohen – en sy musiek – nog springlewendig.

Terwyl die meeste van sy tydgenote blokkiesraaisels invul en bingo speel, het dié onblusbare meester van melancholie tussen 2008 en 2010 korte mette gemaak met ’n wêreldtoer met meer as 200 optredes. Daarby was hy altyd ’n ware heer op die verhoog, onberispelik uitgevat in ’n snyerspak en dankbaar ná elke applous met sy fedora in sy hand.

En nou verras die wyse grysaard opnuut met tien nuwe liedjies op sy eerste ateljee-album sedert die effens ambivalente Dear Heather (2004).

Al die tydlose temas – vermoedelik die “old ideas” waarmee Cohen hom al vier dekades bemoei – is hier aanwesig: sterflikheid, boetedoening, verlies, geloof, hoop en veral die liefde.

Die openingsnit, Going Home, begin op ’n gewyde noot met strykinstrumente, ’n engelekoor van vrouestemme (onder andere die Webb-susters) voordat Cohen aansluit met daai onweerstaanbare baritonstem, gelaai met ironie: “I love to speak with Leonard / He’s a sportsman and a shepherd / He’s a lazy bastard living in a suit.”

In die tweede vers deel hy ’n paar ou idees: “He wants to ­write a love song / an anthem for forgiving / A manual for ­living with defeat”.

Die elektroniese sintetiseerders van vorige albums het nou plek gemaak vir ’n meer akoestiese klank (selfs trompet en glykitaar), dikwels onderbeklemtoon, amper op die agtergrond. Sy invloede het uitgekring na die blues (Darkness en Banjo) en ’n tikkie jazz (Anyhow).

Hy glo steeds in die troos van agtergrondsangers, en hul harmonieë speel ’n kernrol in byna elke liedjie. Cohen steun nog altyd sterk op Bybelse beelde (dink maar aan Hallelujah), en in Old Ideas se Amen verklaar hy: “Try me again when the angels are panting / and scratching the door to come in”.

’n Hoogtepunt is Show Me the Place, waar Cohen bo die klavier en strykers in ’n growwe praatstem smeek: “Show me the place where you want your ­slave to go”. ’n Mens wonder wie sterk genoeg sal wees om so ’n versoek te weier...

In Crazy to Love You, ’n gestroopte ode, tree hy speels in gesprek met sy eertydse Tower of Song: “I had to go crazy to ­love you / had to go down to the pit / had to do time in the tower / begging my crazy to quit”.
En wanneer die luisteraar reeds teen die toue is, gee hy die uitklophou met: “Sometimes I’d head for the highway / I’m old and the mirrors don’t lie / but crazy has places to hide / deep­er than any goodbye”.

Hoewel die album nie met ooglopende “treffers” soos ’n ­Suzanne of Hallelujah smous nie (Cohen is waarskynlik verhewe bo ongedurige treffersparades), verlei Old Ideas opnuut en deel dit die podium met van sy beste en mees afgeronde werk. En die wêreld neem kennis: Dit vaar beter as enige van sy vorige albums en beklee tans ’n topvyf-posisie in 27 lande.

Om na Cohen se bydrae as polsesny-musiek te verwys – soos oningewydes dikwels doen - is na my mening heiligskennis. Old Ideas is veel eerder ’n bevestiging van die lewe in ál sy volheid en verskrikking.

Cohen verleen immers met hierdie woordryke klankbaan ’n handleiding vir die naamlose hartseer wat soms by almal van ons aanmeld. Hy bied nie noodwendig oplossings nie, want hy weet van beter, soos in Come Healing: “Behold the gates of mercy / in arbitrary space / and none of us deserving / the cruelty or the grace.”

Bronne: www.leonardcohen.­com; www.nytimes.com

- Erns Grundling is ’n selferkende Cohen-verslaafde en joernalis by die reistydskrif Weg.



 

Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 13-20°C More sun than clouds. Mild. Pta: 7-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 3-17°C Sunny. Cool. Bfn: 3-20°C Sunny. Cool.
Dbn: 15-26°C Sunny. Mild. PE: 13-25°C Sunny. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Management Accountant

Gauteng
Communicate Midrand Finance Specialist Resource
R800000 - R850000

Management Finance Reporting

Gauteng
Communicate Midrand Finance Specialist Resource
R800000 - R850000

Business Solutions Consultant

Cape Town
Communicate Cape Town IT
Market Related

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Polo 1.6 Trendline 5-dr MY05
2007
R 125,995.00

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2007
R 109,990.00

TOYOTA

Quantum 2.7 14-s Bus
2008
R 265,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

Fifty Shades Trilogie

deur E.L. James

Romanties, bevrydend en totaal verslawend, die Fifty Shades Trilogie sal jou vermaak, verslaaf en vir altyd by bly. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.