Contzen ’n unieke talent as violis
2012-02-01 22:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Daar is al gesê dat Ravel se Tzigane musiek uit die hel is, dít wat jy sal hoor ná verdoemenis.
Hoe ook al, dié sowat 11 minute is ’n tegniese nagmerrie vir die gewone violis en ’n uitdaging vir die konsertviolis.
Dan is daar violiste wat dit tot ’n vlak van die vertolkingskuns verhef, soos ’n Perlman, Vengerof, Repin, en ook Mirijam Contzen, die 34-jarige Duitse violis gebore in Münster wat dié naweek haar eerste besoek aan Suid-Afrika bring en onder meer die Tzigane in haar solo-program saam met die Amerikaanse pianis Bryan Wallick op die Mozart-fees in Johannesburg begin.
Dié stuk is ook op die CD Favourite Violin Pieces, wat sy saam met die puik Roemeense pianis Valéry Rogatchev vir Arte Nova (82570-2) opgeneem het.
Die gesaghebbende internasionale tydskrif vir strykinstrumente, The Strad, het Contzen enkele jare gelede só beskryf: “Op 23 is sy reeds ’n ware aristokraat van die viool ... ’n unieke talent wat bewaar moet word.”
Dié buitengewone talent blyk duidelik uit die CD waarin sy bekende vioolstukke speel, soos Fritz Kreisler se Variasies op ’n tema van Corelli, Gluck se Melodie uit Orféo et Euridice, Falla se Danza espagñola, Sarasate se Inleiding en Tarantella, Rachmaninoff se Vocalise en ’n eenvoudig manjifieke weergawe van die Ses Roemeense volksdanse van Bartók.
En daar is ook ’n groep minder bekende stukke van Dohnányi (Ruralia Hungarica), Ferrara (Burlesca), Geszler (Búgöcsiga), Hubay (Der Zephir), Principe (El Campielo) en Maria Theresia von Paradis (Sicilienne, aangepas deur Samuel Dushkin).
Contzen is in Suid-Afrika as plaasvervanger vir die hoog aangeskrewe Duitse violis Benjamin Schmid. Luister gerus na dié CD en jy weet sy is ’n besonderse violis: ’n beter plaasvervanger kan jy jou beswaarlik voorstel.
Nog ’n opname wat aandag verdien, is van die Franse tjellis Gautier Capucon, die (heelwat jonger) broer van die befaamde violis Renaud Capucon, wat reeds soveel opnames met die Argentynse pianis Martha Argerich gemaak het.
Sy CD heet Rhapsody (EMI Virgin Classics 385786-2), en die ewe hoog aangeskrewe Garbriele Montero, wat al in Kaapstad opgetree het, is voor die klavier.
Ook hy speel die Vocalise, deur dié twee musici getranskribeer, en die Variasie no. 18 van Rachmaninoff se Rapsodie op ’n tema van Paganini .
Maar belangriker, die opnames van Rachmaninoff se Sonate in g, op. 19 en Prokofiëf se Sonate in C, op. 119 is deurleef en van belang in dié bepaalde repertorium.