Cristina Ortiz terug in SA
2012-02-07 22:31
Die Brasiliaanse pianis Cristina Ortiz is ná jare terug in Suid-Afrika, en begin haar konsertreis vandeesweek as deel van die Johannesburg- Internasionale Mozartfees.
Ortiz het in 1969 die gesogte Van Cliburn- Internasionale Klavierkompetisie in Texas gewen, en dit was in die later 1970’s dat sy Suid-Afrika vir die eerste en laaste keer besoek het. Sy het indertyd saam met die Truk-orkes, gedirigeer deur Leo Quayle, opgetree.
Teen daardie tyd het sy wêreldwyd aandag geniet, veral vanweë haar skitter-opname van Sjostakowitsj se twee klavierconcerto’s vir EMI met die Bournemouth-simfonieorkes en die Finse dirigent Paavo Berglund, wat einde verlede maand oorlede is.
Ongelukkig speel Ortiz nie tydens dié besoek saam met ’n orkes in Gauteng nie.
Sy het gisteraand haar konsertreis in Durban begin.
Môreaand om 19:30 is Ortiz in die teater van die Universiteit van Johannesburg (UJ) se kunstesentrum in Auckland Park, en Saterdag om 18:00 is sy in Pretoria vir Unisa in die Sontonga-saal in Sunnyside.
Vir die Mozart-fees het sy twee Mozarts op haar program ingesluit – Wolfgang Amadeus se Fantasie in d, K397, en Mozart Camargo Guarnieri se Ponteio nos. 24 & 30.
Die hoogaangeskrewe komponis-dirigent Mozart Camargo Guarnieri was ’n landgenoot van Ortiz, gebore in 1907 en oorlede in 1993 in São Paulo.
Hy is Mozart Guarnieri geregistreer, maar hy het besluit sy eerste naam was “te pretensieus” en toe het hy sy ma se van, Camargo, as middelnaam bygevoeg; én sy naam M. Camargo Guarnieri geteken.
Hy het in 1948 amptelik sy naam laat verander. (M. Camargo se broers is gedoop Rossini Guarnieri en Verdi Guarnieri!)
Die res van Ortiz se Goudstad-program bestaan uit vier Etudes uit op. 25 van Chopin, vyf intermezzi van Brahms en die program word afgesluit met nog ’n landgenoot-komponis, maar veel bekender – Heitor Villa-Lobos se Valsa da dor en Festa no sertao.
Vrydag om 19:30 is Ortiz die solis in die UJ-teater in die kamer-weergawe van Chopin se Klavierkonsert no. 1, saam met Camelia Onea (viool), Waldo Alexander (viool), Valeri Andreev (altviool), Carel Henn (tjello) en Ludovico Gabanella (basviool).
In Pretoria speel Ortiz net Chopin – sy vier Scherzo’s en vier Ballades.
Kaartjies vir die UJ-konserte kan by Computicket gekoop word en vir Pretoria Saterdag van 17:15 by die Sontonga-loket.
Navrae: 011 447 9264 (Johannesburg) en 012 429 3336 (Pretoria).