En bo dit alles, die malkop-verteller
2011-10-09 21:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Leon de Kock skryf oor baldadige, uitbundige skrywerstemme, onder meer dié van Philip Roth.
Vir my gaan dit alles oor die skrywerstem.
Die soort skrywerstem waarvan ek die meeste hou, is dit wat dalk beskryf kan word met die woorde “uitbundig” of “baldadig”.
Exuberant.
Uitspattig, komies, satiries, met skerp sylangse humor, en ironies, met ’n neiging tot galgehumor.
Dit is dan ook waarna ek self streef as ek fiksie skryf.
My geliefste voorbeeld hiervan is Philip Roth se malkop-roman Portnoy’s Complaint.
Die vertellerstem in Portnoy’s Complaint is dié van ’n besetene, ’n manlike ek-vertellerstem wat obsessief is oor sy ontwakende seksualiteit.
Hy beleef sy ontdekkings op dié gebied op so ’n manier dat hy nie anders kan nie as uiting daaraan te gee in ’n hees, jags, halsoorkop en maniese stem.
Dis ’n stem wat baie, baie snaaks is.
Agter dié stem staan Roth die outeur, wat lekker speel binne hierdie vertel-opset.
Dit is juis in die gaping tussen Roth, die uiteindelike outeur, en Roth se spesifieke vertellerstem in Portnoy’s Complaint waar knap narratiewe speelsheid plaasvind.
Dit is ook binne so ’n vormskepping dat skrywers ruimte kan maak om uiting te gee aan sake wat hulle na aan die hart lê.
My eie ontdekking, toe ek Marlene van Niekerk se trefferroman Triomf in Engels vertaal het, was juis hóé sulke ruimteskepping binne fiksie kan en móét werk.
Só, het ek toe besef, gebruik ’n mens fiksie om dinge te sê wat eintlik buite fiksie se grense lê.
Dit is juis hierdie kapasiteit wat fiksie belangrik maak binne en buite sy eie grense.
Só, byvoorbeeld, skep Van Niekerk ruimte (deur haar karakter Treppie) om ’n filosofiese diskoers te ontketen oor “muur-
papier” – die verskillende maniere waarop mense taal gebruik om die wêreld daarbuite te kamoefleer en verdoesel.
Dít lê aan die hart van die roman se “boodskap”.
Dit is ook, terloops, waarom ek meen literêre vertaling is heel moontlik die grootste leermeester as dit kom by kreatiewe skryfwerk, selfs beter as die skryf van kreatiewe werk self, hoewel skryfprogramme hierdie feit selde besef.
(Ek soek MA-kandidate by die US om vertaalprojekte saam met my aan te pak!)
Malkop- of “onbetroubare” vertellerstemme in Suid-Afrikaanse skryfwerk kom voor in die werk van outeurs soos Barney Simon (Joburg Sis!), John Eppel (DGG Berry’s The Great North Road), Koos Kombuis (Drugs, sex en Boeremusiek) en die groot meester van die ironiese vertellerstem, Herman Charles Bosman, om net enkeles te noem.
Sulke skrywers lees ek graag.
***
Leon de Kock is ’n digter, vertaler, romansier en kritikus.
Hy is tans professor in Engels aan die Universiteit van Stellenbosch.
Sy publikasies sluit in die digbundels Bloodsong (1997), gone to the edges (2006) en Bodyhood (2010).
De Kock se eerste roman, Bad Sex , het pas by Umuzi verskyn.