Fleming ’n fladder-vlinder
2009-08-27 06:20
Suid-Afrika se betrokkenheid by die Amerikaanse super-sopraan Renée Fleming se besoek wat vanaand in die Durbanse stadsaal begin, het eintlik al lank reeds begin. Benewens die maande lange onderhandelings deur Bongani Tembe, die KwaZulu-Natal Filharmonie se baas, het die Suid-Afrikaanse ontwerper Henry Schickerling – nou al langer as ’n kwarteeu in New York doenig – die kontrak gekry om Fleming se konsert-“kostuums” (aandrokke) vir haar toer te ontwerp.
Dit was so byna-byna of dié plan het deur die mat geval omdat Fleming se konsert- en operaskedule só ongelooflik druk is dat tyd vir aanpas tussen die konserte en lughawens van Ecuador na New York en na waar ook al baie knap is.
’n Verligte Schickerling het ná ’n pas-sessie in haar “reuse-apartment” in New York per e-pos laat weet dat alles goed afgeloop het. “Sy sal albei rokke in elke konsert dra.”
Hy skryf ook van Fleming as ’n innemende mens – “g’n prima donna nie”.
Die passing was beswaarlik verby of die nuwe dirigent van die New Yorkse Filharmonie – Alan Gilbert – daag op. (Hy was die dirigent van John Adams se opera Dr. Atomic wat verlede jaar in ons Cinema Nouveau-teaters vertoon is.) Die “NYPhil” se jaarseisoen begin altyd in September, en Fleming gaan vanjaar die seisoen open in Gilbert se eerste konsert as die nuwe hoofdirigent. Hy en Fleming werk intussen aan Messiaen se Poèmes pour Mi, wat sy in die openingsgala in die Avery Fischer-saal in die Lincoln-sentrum gaan sing, ’n konsertsaal met sowat 4 000 sitplekke langs die Metropolitan Opera en oorkant die New Yorkse Stadsopera.
As ’n mens kyk na Fleming se verstommend druk program, lyk dit of sy meer begin neig na (die meer winsgewende) operakonserte en haar opera-optredes effens begin afskaal.
Operas wat sy in die nuwe Met-seisoen tot middel 2010 gaan sing, is Strauss se Der Rosenkavalier (Okt. en Jan.), ’n nuwe produksie en ook die Met-première van Rossini se Armida (April/Mei). In die Weense Staatsopera sing sy in Junie 2010 in Strauss se Cappriccio en is net daarna tot so einde Julie in die Zürich Opera vir eers Verdi se La traviata en dan weer Rosenkavalier.
Benewens die Messiaen-konsert net ná haar Suid-Afrikaanse besoek sing sy Barber se aangrypende Knoxville: Summer of 1915 en Strauss-orkesliedere met die Chicago-simfonie-orkes se openingsaand-gala in Oktober en openbare meesterklasse by die Juilliard-musiekskool. Einde Oktober onderneem sy as die solis deel aan ’n Europese toer van Engeland se Royal Philharmonic Orchestra. In November en Desember gee Fleming kunslied-uitvoerings in Baden-Baden, Baltimore, Berkeley, Los Angeles, Madrid, Praag, Santa Barbara, Seattle, Vancouver en Wene; en in Februarie 2010 reis sy saam met die Bostonse Simfonieorkes vir talle uitvoerings van Strauss se Vier letzte Lieder en die Simfonie no. 4 van Mahler.
G’n wonder nie dat die vrou pootuit was tydens die pas-sessie net meer as ’n week gelede, soos Schickerling skryf!