Heelwat vertalings op Woordfees-program
2012-02-01 22:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die skrywer Rachelle Greeff bring Buitepos, haar tweede toneelstuk ná haar treffer Die naaimasjien, na die dertiende Stellenbosse Woordfees wat van 2 tot 11 Maart aangebied word.
Die kabaretster Amanda Strydom is die eerste keer in jare as aktrise terug op die verhoog in Voor ek vergeet.
Pieter Fourie se drama Mooi Maria word afgestof en Educating Rita kry ’n Afrikaanse baadjie.
Dit is wat vanjaar op besoekers aan die Woordfees wag. Die program is onlangs op Stellenbosch bekend gestel.
Die dramafees bied 29 dramatiese en komiese stukke. In Voor ek vergeet word ’n deernisvolle blik op ’n verhouding tussen ’n ma en seun gebied, met Hannes van Wyk teenoor Strydom.
Hennie van Greunen is reeds bekend vir sy suksesvolle Afrikaanse vertalings van internasionale treffers met ’n universele boodskap.
Hierdie keer verplaas hy Willy Russell se Educating Rita na Bishop Lavis, waar die haarkapper Grieta besluit sy wil geleerdheid hê in Grieta kry geleerdheid. Lulu Botha en Chris van Niekerk vertolk die rolle.
Nog ’n interessante vertaling is David Mamet se liefdesbrief aan die teater, A Life in the Theatre, wat onder die regie van Marthinus Basson as ’n Lewe in die teater te sien sal wees.
Skeer op Richmond is ’n nuwe stuk deur Saartjie Botha en word beskryf as ’n reis na genesing.
Daar is ook herhalings van gewilde toneelstukke wat op ander feeste te sien was, soos: Bullets over Bishop Lavis; Die rebellie van Lafras Verwey; Nag, Ma; Agterplaas; Dis koue kos, skat; Vaselinetjie; en My name/My naam is Ellen Pakkies.
Kontemporêre musiek word in verskillende lokale, asook in die buitelug, aangebied.
Laataand word musiek gemaak in De Vette Mossel.
Piet Botha en Valiant Swart is van die kunstenaars wat daar optree.
In die Amazink Live-restaurant in Kayamandi word ’n interaktiewe Suid-Afrikaanse musiekspel aangebied. ’n Pendeldiens na en van die restaurant is beskikbaar.
Lizz Meiring en die kitaar-duo CH2 is in die komiese kitaarkabaret Ping! te sien.
In die Oude Libertas-amfiteater is Strydom een aand saam met Janine Neethling in Binnekamer, wat Deon Opperman vir haar geskryf het.
Ook in die Spier-amfiteater word musiekprogramme aangebied, met onder andere Vusi Mahlasela en Lize Beekman, Karen Zoid en Zolani Mahola, en Spirito met Zanne Stapelberg, Minette du Toit-Pearce, die Tygerberg-kinderkoor en die Solms Delta-orkes.
As deel van die Sanlam-musiekfees word die komponis Hubert du Plessis gehuldig met ’n liedprogram.
’n Blaaskwintet uit München, orrelmusiek en ’n fees van Franse orkesmusiek is ook op die program.
Besoek die webwerf www.woordfees.co.za vir meer inligting. Bespreek by Computicket.