Dit was met die invul van die sensusvorm
verlede jaar dat Nataniël besef het hoe alles in hierdie wêreld geklassifiseer
word.
“Dis belaglik,” sê hy tydens ’n media-ete aan Beeld.
“Al wat ek met sekerheid kon invul, was dat ek ’n man is en dat ek wit
is.”
Nou wat van kinders wat gebore word uit huwelike van mense van
verskillende rasse, wil hy weet? Wat moet hulle invul onder “ras”? Wie besluit
oor waar die grense lê?
Daar is baie grys gebiede, het hy besef. En hierdie grys gebiede
was opwindende stof tot nadenke vir Black White Man Woman wat van
16 Februarie tot 25 Maart in Emperors Palace in Kempton Park te sien is.
Dit is vanjaar die tiende produksie wat hy in opdrag van dié
vermaaksentrum op die planke bring. (Sy Combat van verlede jaar
is pas tot rolprent verwerk en juis tans te sien in uitgesoekte
fliekteaters.)
Soos in die verlede is Floris Louw die kreatiewe krag agter sy
kostuums. “Alles is swart en wit,” sê Nataniël. Niks lyk egter net swart of wit
nie, want die kleur word bepaal deur die lig wat daarop val.
“Alles was anders in my kop toe ek hierdie produksie geskryf het,”
sê hy. Hy verbreek hiermee ook sy “C-trilogie” ná sy Coronation,
Cathedral en Combat van die vorige drie
jaar.
“Dit is die eerste keer dat ek nie ’n periodegevoel aan die
produksie gee nie.”
Hy gebruik wel verskeie vorme van visuele kuns – waaronder ook
macrame – as inspirasie vir die verskillende liedjies, maar hy wil nie te veel
verkap nie.
“Dit is die toeganklikste musiek wat ek nóg geskryf het. Daar is
meer popperige liedjies; alles het ’n lekker beat.”
“Daar is net een bloedbad,” sê hy oor die torch song wat hy daarby insluit.
Eintlik is die hele gevoel van hierdie produksie taamlik lig.
“Daar is genoeg preke op ander plekke.”
Hy praat ook met groot lof van Lindiwe Bungane, wat saam met hom
daarin te sien is. “Daai stem,” rol hy sy oë in haar rigting.
Hy het dié Zambiër, wat ook te sien was as Effie in verlede jaar se
Dreamgirls-musiekspel, in 2004 ontmoet tydens die Project Fame-kompetisie.
Saam met hulle is Tonia Selley en Nicolaas Swart op die verhoog,
met Charl du Plessis op die klawerbord, Juan Oosthuizen op die kitaar, Werner
Spies op die baskitaar en Hugo Radyn op die tromme.
- Vertonings vind plaas van Woensdag tot Saterdag om 20:30 en
Sondag om 15:00 in die Theatre of Marcellus by Emperors Palace. Bespreek by
die Emperors-loket by 011 928 1297/1213 of Computicket. Niemand jonger as
15.