Om ’n sin van plek te kan hê
2011-12-11 22:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dit is sekerlik enige skrywer se droom om soos Elsa Joubert ruimte in ’n roman te skep.
Synde ’n bewonderaar van helder ruimteskepping in ’n storie, lees ek haar boeke graag.
Enige skrywer sal eweneens kan getuig hoe kompleks dit is om ruimte met al sy fasette in ’n roman te vergestalt.
Dit gaan tog nie net om konkrete ruimte of die blote plek of “agtergrond” nie, maar ook om die talle abstraksies van ruimte.
Onder hierdie abstraksies val onder meer die karakters se kultuur, politiek, religie, hul psige en ’n duisternis ander abstrakthede.
Dit is bekend dat ’n skrywer wat goed ruimte kan skep ook ’n uitstekende sin van plek (sense of place) het. Die mens is immers ’n wese wat intens emosioneel en psigies op sy ruimte reageer. Sin van plek kan dan ook beskryf word as daardie intieme wisselwerking wat ’n mens met sy innerlike en uiterlike omgewing het. Dit geld ook karakters in ’n roman.
Sin van plek kan ook in verband gebring word met die intense emosie waarmee ’n skrywer ’n konkrete plek soos ’n huis of ’n abstrakte ruimte soos byvoorbeeld kultuur beleef.
Novakovich (1998) meen dat ’n skrywer ’n sin van plek moet hê: “Without a strong sense of place, it’s hard to achieve suspense and excitement – which depend on the reader’s sensation of being right there, where the action takes place.”
Dit is onder meer waarin Joubert so uitmuntend slaag. Mens is dáár, by die plek, in die situasie, deel daarvan. In Reisiger, die tweede deel van haar outobiografie, wat vir my soos ’n roman lees, plaas die skrywer moeiteloos en helder enorme kontinente in die ruimte van haar teks. Afrika, die Verre-Ooste, Suid-Amerika, Europa.
Daarby word haar eie, persoonlike ruimte een met die konkrete plekke; maak dit tegelyk ook byna vloeibaar en abstrak sodat jy as leser meegevoer word deur die polsende lewensweë van Joubert.
Ruimte, gekoppel aan ’n skrywer se sin van plek, is inderdaad die skeppingselement wat ’n roman of outobiografie kan laat mank gaan aan diepte of dit ’n betekenisvolle laag-op-laag-ervaring maak. Dit is bepaald so omdat ruimte so ’n totaal onmisbare komponent van die mens in die werklikheid se lewe vorm.