‘Onbesoedelde’ Cohen verbreek stilte wat smoor
2012-01-30 21:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Leonard Cohen se eerste ateljee-album met nuwe materiaal in agt jaar word vandag in die VSA uitgereik, skryf John McCrank.
New York. – Daar is ’n stilte in die New Yorkse kroeg waar Leonard Cohen (77) vir ’n voorskou van sy eerste ateljee-album met nuwe materiaal in agt jaar, Old Ideas, sorg.
Hy gesels oor hoe sy idees in sy lang loopbaan verander het en onthou iets wat ’n goeie vriend, die ontslape Kanadese digter Irving Layton, op ’n keer gesê het: “Leonard se verstand is nie deur ’n enkele idee besoedel nie.”
Die nuwe album is van vandag in die VSA beskikbaar (die Suid-Afrikaanse uitreikingsdatum was teen druktyd nog nie bekend nie).
Op die album roer hy temas aan wat Layton ’n leeftyd lank verken het, onder meer liefde, seks, geloof en sterflikheid.
Maar daar is ’n ligte aanslag in die werk en Cohen verseg om homself ernstig op te neem.
“I love to speak with Leonard / He’s a sportsman and a shepherd / He’s a lazy bastard / Living in a suit,” neurie-sing hy met sy skor baritonstem in die eerste snit, Going Home.
Die tien nuwe liedjies is veel meer gestroop wat bou betref en herinner aan Cohen se vroeër en bekendste werke soos Suzanne, Bird on a Wire en Hallelujah.
Sangers soos Jennifer Warne, Sharon Robinson en Anjali Thomas wat lank reeds saam met Cohen werk, sing ook op die album, waarop ligte kitaarklanke, klawerborde, Franse horings en strykers ingespan is.
Cohen sê die opneemproses het vinniger gevorder as talle van sy 11 vorige ateljee-albums, maar dit is steeds ’n stryd om sy boodskap in ’n lied oor te dra.
“Jy probeer een van die min goed doen wat jy skaars weet hoe om te doen,” vertel hy ná die luisterslag.
“Jy werk met ’n bykans onbreekbare stilte en jy is dankbaar as enigiets deurkom.”
Cohen het ook al verskeie konsert-albums en versamelings van treffers uitgereik, asook tien digbundels en twee romans.
Hy bied ook ’n blik op sy kluisenaarsbestaan; sy verliefdheid op Edie Sedgwick, ’n pragtige New Yorkse sosiale vlinder, in die middel-60’s; sy gevoelens van diepe verlies en ongemak ná orkaan Katrina se verwoesting; en die eer om saam met sy 104-jarige Zen-Boeddhistiese onderwyser te kon drink uit ’n goue kom.
Hy sê sy wêreldtoer van twee jaar “het ’n deel van my hart verwarm wat koud geword het” en dat hy graag in die nabye toekoms weer op die pad wil wees.
Nou, sê Cohen, sien hy daarna uit om terug op die verhoog te wees en dis ’n geleë tyd om aan nog ’n halfdosyn liedjies te skaaf waaraan hy werk, maar wat nog nie reg was vir die uitreiking van Old Ideas nie.
– Reuters