Oneer vir Coetzee, Afrikaanse lesers
2009-11-29 22:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
In oneer deur J.M. Coetzee. Umuzi-uitgewers (sagteband, 192 bladsye), R220.
Dit is verblydend dat so ’n groot getal Afrikaanse romans die laaste paar jaar in Engels vertaal is.
Op dié wyse is die werk van Afrikaanse skrywers onder die aandag van ’n veel groter leserspubliek gebring. Afrikaanse vertalings van Engelstalige Suid-Afrikaanse romans verskyn egter nie so dikwels nie. Miskien omdat talle Afrikaanse lesers die oorspronklike Engelse weergawe kan (en soms eerder wíl) lees. Miskien omdat ’n vertaling nie altyd ’n véél groter lesersmark waarborg nie.
In 2007 en 2008 het die Afrikaanse vertalings van twee Pamela Jooste-romans – Star of the Morning (Môrester) en Dance with a Poor Man’s Daughter (Dans met ’n armmansdogter) – by Umuzi verskyn.
Presies ’n dekade ná die oorspronklike uitgawe in Engels verskyn ’n vertaling van J.M. Coetzee se Disgrace – wat met die Bookerprys én die Nobelprys vir letterkunde bekroon is – met die titel In oneer by dieselfde uitgewer. Dat die verskyning van dié vertaling deur die digter Fanie Olivier saamgeval het met die uitreiking van die rolprent Disgrace in Suid-Afrika is waarskynlik nie toevallig nie. Olivier se vertaling wek inderdaad die indruk dat dit onder druk voltooi is.
Michiel Heyns se uitstekende vertaling van Agaat (deur Marlene van Niekerk) bewys dat ’n mens nie ’n opgeleide of ervare vertaler hoef te wees om ’n roman suksesvol te vertaal nie, maar dat jy jou taak wel ernstig moet opneem. In ’n akademiese artikel in Tydskrif vir Literatuurwetenskap definieer Heyns ’n literêre vertaling soos volg: “?…?’n vertaling is ’n veroorloofde oortreding op ’n vrugbare, maar betreklik onbekende terrein, waaroor die vertaler verslag moet doen aan mense vir wie die terrein nie net onbekend is nie, maar in talle opsigte ook vreemd.”
Hier geld hierdie omskrywing nié. Nóg die verwysingsraamwerk nóg die ruimte nóg die kulturele verwysings behoort vir ’n Afrikaanse leser onbekend of vreemd te wees.
’n Mens kan jou kwalik voorstel dat die lesers wat die Afrikaanse vertaling lees, nie ook vertroud sal wees met die Engelse weergawe van die roman nie.
Om dié rede is dit belangrik dat die Afrikaanse vertaling net so goed moet wees soos die oorspronklike Engels – ook wat styl, register en betekenisnuanses betref.
’n Groot uitdaging, maar insgelyks ook ’n opwindende kans!
Die titel van Heyns se artikel – “Irreparable Loss and Exhorbitant Gain: On Translating Agaat” – is ’n aanduiding daarvan dat sekere betekenisse noodgedwonge in ’n vertaling verlore gaan, maar dat die vertaler in bepaalde gevalle so kreatief te werk kan gaan dat die vertaling onverwagse “winste” kan oplewer.
Een van die “winste” van Olivier se vertaling is dat die “oordrewe Kaapse dialoog” wat Melanie in die toneelstuk Sunset at the Globe Salon gebruik in Afrikaans besonder kleurryk op die oor val. ’n Ander is dat sy vertaling minder gebruiklike Afrikaanse woorde in die leser se woordeskatgeheue wakker maak, soos “kluif”, “knots”, “dweil”, “terugaarding”, “skindermeul”, “psigopronker” en “echelon”.
In enkele gevalle verkry die Afrikaanse dialoog ’n bykomende betekenis wat die Engels nie het nie. Tydens ’n ete-afspraak sê David byvoorbeeld aan sy eksvrou, Rosalind: “I’m going to end up in a hole in the ground. And so are you. So are we all.”
In die Afrikaanse vertaling – “Ek gaan uiteindelik in ’n gat in die grond beland. En net so gaan jy. So gaan ons almal.” (p. 180) – verkry die woordjie “gaan” ’n baie gepaste dubbelbetekenis.
Ongelukkig gaan daar egter veel meer in Olivier se vertaling verlore as wat “gewen” word.
In sekere gevalle is die Afrikaanse vertaling nie die korrekte weergawe van die Engels nie, byvoorbeeld:
“I was no longer a fifty-year-old divorcé at a loose end.” – “Ek was daarna nie meer ’n vyftig jaar oue man met ’n los lootjie nie.” (p. 51)
“For a while he and Petrus work in concert, scraping, scrubbing, shovelling out the mud. Then he breaks off.” – “?’n Ruk lank werk hy en Petrus saam, skraap, skrop, werk die modder uit met ’n graaf. Dan onderbreek hy.” (p. 114)
“He is living on credit; any day now his credit is going to dry up” – “Hy lewe op krediet; nou elke dag gaan sy krediet opdroog” (p. 167).
In ander gevalle verkry ’n vertaalde woord ’n betekenis in die doeltaal wat die vertaler nie voorsien het nie: “He has always been a man of the city, at home amid a flux of bodies where eros stalks and glances flash like arrows”, word byvoorbeeld vertaal as “Hy was nog altyd ’n stadsmens, tuis tussen die maling van liggame waar eros rondsluip en blikke soos pyle flits.” (p. 10)
Soms het die Afrikaanse weergawe juis die teenoorgestelde betekenis as die Engels: “Not higher, necessarily, but different”, word nie vertaal as “Nie noodwendig meer verhewe nie, maar verskillend” nie, maar as “Nie hoër nie, noodwendig nie, maar verskillend.” (p. 72)
En David se pragtige verweer: “I rest my case on the rights of desire. On the god who makes even the small birds quiver”, wat André P. Brink as motto in sy roman Donkermaan gebruik, word vertaal as “My saak berus op die aansprake van begeerte. Op die god wat selfs die voëltjies laat ril.” (p. 86) Terwyl “quiver” (afgelei van die Oud-Engelse “active/nimble”), myns insiens, juis ’n positiewe of versterkende betekenis het, is die Afrikaanse “ril” byna ondubbelsinnig negatief.
Omdat die vertaler ’n digter is, het ek ’n meer kreatiewe vertaling verwag. Olivier kies egter ’n taamlik letterlike vertaling, wat niks meer as ’n flou afspieëling van die oorspronklike roman word nie.
Sinne soos “Ten opsigte van jou motiewe, David, kan ek jou verseker, sal die diere by die kliniek dit nie bevraagteken nie” (p. 75) en “Hy het verwag dat Ettinger hulle na die polisiestasie sou neem. Maar, blyk dit, Lucy het hom aangesê om hospitaal toe te ry” (p. 96), val byvoorbeeld vreemd op ’n Afrikaanse oor.
In die eerste plek is daar heeltemal te veel gevalle waar die Engelse sins-ritme of woordorde op ’n Afrikaanse vertaling afgedwing word.
In die tweede plek word die vertaling ook ontsier deur onnodige anglisismes, soos “in haar eie tyd ” (p. 6); “korrigeer gebreke in die interpunksie” (p. 8); “professor Lurie se pleit”
(p. 48); “Het jy die universiteit vir goed verlaat?” (p. 62); “hier is dit reg” vir “here it is all right” (p. 62); “Selfs op jou terme.” (p. 76); “eutanasie” (88) en “Melanie is wel, aangesien u vra”
(p. 159) vir “Melanie is well, since you ask”.
En derdens word vertalingsbesluite nie konsekwent deurgevoer nie. Ten einde die leser daaraan te herinner dat die aanvanklike romangebeure op die kampus van ’n Engelse universiteit afspeel, word die name van departemente en kursusse (soos “Communications 101, ‘Communication Skills’?”), asook slagspreuke op pamflette (soos “Women speak out”) in Engels behou. Maar waarom word “Classics and Modern Languages” (wat die naam van ’n departement is), die organisasie “Coalition against Discrimination” en die eerste voorveronderstelling in die Communications 101-handboek dan in Afrikaans vertaal?
In Disgrace is dit veral Coetzee se taalgebruik, sy spel met die moontlikhede van die woord, wat die ontstellende verhaalgebeure verteerbaar maak en die leser meevoer.
In In oneer word die taal dikwels eerder ’n leeshindernis, ’n versperring, ’n belemmering. Nie net Coetzee nie, ook Afrikaanse lesers verdien beter as dit.
* Human is ’n letterkundedosent aan die Universiteit van Johannesburg.
- Beeld