‘Ontsnaptes’ hou aan grense verskuif
2010-08-08 22:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Es(Cape) - Groepuitstalling
Kunsvereniging Pretoria
Es(Cape) is ’n groepuitstalling van Kaapse kunstenaars met ’n vroeëre Pretoria-verbintenis – hulle het almal eens in Pretoria gewoon, geswot of gewerk.
Dié groep is Hanneke Benade, Lien Botha, Chris Diedericks, Nicola Grobler, Lenie Harley, Anton Karstel, Marlise Keith, Kai Losgott, MJ Lourens, Louise Nel, Carine Zaayman, Momphunzi Mashalaba, Elsabe Milandri, Barbara Wildenboer, Lionel Smith, Franci Cronjé en Henk Serfontein.
Cronjé en Serfontein het op ’n dag in die Kaap sit en tel hoeveel oud-Pretorianer-kunstenaars nou in die Kaap woon en werk, en terstond besluit om ’n uitstalling van hul werk byeen te kry vir ’n uitstalling.
Op die oog af is daar min visuele binding in dié groepuitstalling – gewoon omdat die kunstenaars se onderskeie benaderings so uiteenlopend is.
Die koherensie lê egter elders – in die feit dat al dié kunstenaars “ontsnap” (vandaar die “escape”) het uit Pretoria.
Ontsnapping dui gewoonlik op winkende vryheid. Of die Kaap (of enige ander plek) blywende vryheid kan bied, bly ’n vraag.
À la Totius blyk die rus immer elders te wees.
Nietemin is die werke op Es(Cape) die neerslag van die prikkels wat ’n nuwe leef- en werkomgewing bied en om immer horisonne te verbreed. Dit manifesteer op verskillende maniere.
Daar is Milandri wat in haar tekeninge van Tafelberg blyke gee van haar frustrasie om as “Pretoria-chick” dié berg te verbeeld; van haar pogings om ’n greep te kry op dié baken wat so eie is aan Kapenaars.
Maar vir die res is die Kaap net ’n nuwe werkomgewing. Benade se pastelportrette wys kwalik dat sy suid verhuis het.
Haar werk bly die gestolde oomblikke wat op enige plek kan plaasvind.
Cronjé se gestoei met die nalatenskap van Calvinisme (wat sy koppel aan haar kinderervaring en desnoods dié van Pretoria) sou op enige plek gestalte kon kry.
Sy gebruik taferele uit ’n Kinderbybel van onder meer Eva se swig voor die versoeking om die vrug in die paradys te eet (en die mensdom in sonde te laat beland).
Die “inkleurwerk” wat aan dié van ’n kind herinner, word as’t ware die voertuig vir haar rebellie.
Nostalgie is die een aspek wat in verskeie werke kop uitsteek – soos in Serfontein se nagtonele van Kaapse strate met verligte fasades van hoekkafees en Keith se klein mitiese droombeelde.
As ’n soort verslag aan Pretoriase kunsliefhebbers is dié uitstalling aanduiding dat dié ou bekendes onverpoosd besig is om grense te versit.
Es(Cape) is te sien tot 17 Augustus in die Kunsvereniging se galery in Mackiestraat 173.
Navrae: 012 346 3100.

Marlise Keith se Permissable Nostalgia – een van die werke op Es(Cape) in die galery van die Kunsvereniging Pretoria.