Parow sit niks nuwe eish by nie
2012-01-31 21:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Hosh ja!
’n Vriend het eenkeer sy frustrasie met Afrikaanse vloekwoorde uitgespreek.
“Daar is net te min,” het hy gesê. “Jy kom te gou by die ergste een wat jy ken, en dan is daar niks verder nie, al voel jy daar moet wees.”
’n Mens kan nie oor die gebruik van kru taal alleen ’n oordeel uitspreek as jy oor musiek skryf nie.
Het dit ’n plek om sosiale kommentaar te lewer, is dit so goed soos ’n dubbel-brannas en Coke.
Maar, ’n mens kan ook net soveel keer na die woordeskat van ’n skurwe mechanic luister voordat jy moeg raak daarvoor; ook net soveel keer hoor hoe groot Parow se “koevoet” is.
’n Mens wil met Parow se tweede CD hoop op iets vernuwend, hoewel dit moeilik is om te voorspel wat lê anderkant die grens in die skok-vloek-zef-rap-genre.
(Hierdie ... uhm ... faktor gaan ook geld wanneer Die Antwoord se nuwe album aan die einde van die week uitgereik word.)
Die resep vir Parow se Eksie ou is egter grootliks dieselfde as wat dit vir sy debuut was.
Die titelsnit laat ’n mens dink aan Cooler as ekke van die eerste album en Francois van Coke het ook weer kom hand bysit.
Hulle gesamentlike poging, Hard partytjie hou, steek egter net nie in dieselfde mate in die kop vas as Dans dans dans nie.
Ek is wel gek na die weergawe van Biscuits & Biltong, wat hy saam met David Kramer sing.
Parow gee ’n nuwe dimensie aan dié ou liedjie wat dit nog eerliker op die oor laat val – die Weskus-klonge raak zef, en dis goed so.
Laat ons suip is ’n parodie op die volksliedjie Hier’s ek weer en die boeremusiekklanke gaan die voete op die vloere van rugby- en stoeisale laat tik, terwyl dit kommentaar lewer op die rugby- en suipkultuur so eie aan die nasie.
’n Mens kan ook nie anders as om toe te laat dat Hos Tokelosh jou meesleur nie. Dalk is dit die tokkelossie wat jou so “vange-lang-lang”.
Maar luister ’n mens nou weer na Move Like a Monster, is daar ná die stortvloed profaniteite verby is nie genoeg dat jy weer daarna wil luister nie.
Die album is goed vervaardig en daar is genoeg verskeidenheid in die snitte, maar waar ek nou nog sy debuut nader trek om na snitte soos Byellville en I Miss te luister, is hier net nie dieselfde aantrekkingskrag nie, my bra.