‘Phantom’ bestorm Fleur du Cap
2012-02-10 22:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Pieter Toerien se grootse musiekspel, The Phantom of the Opera, en Lara Foot se stil-sterk drama Solomon and Marion is die voorste mededingers om die jaarlikse Fleur du Cap-pryse. Met dié pryse word prestasies op Kaapse teaterverhoë vereer.
Afrikaanse teater vonkel onder die benoemings met nie minder nie as vyf uitstekende produksies onder die benoemings: Die rebellie van Lafras Verwey, Die kortstondige raklewe van Anastasia W, Die kaptein se tier, Klaasvakie en Hol.
Phantom, wat alom geprys word as ’n topgehalte-produksie, het agt benoemings en Solomon and Marion ses.
Die kortstondige raklewe van Anastasia W, Marlene van Niekerk se rou weeklaag oor die moord en verkragting van kinders in Suid-Afrika, het vyf benoemings losgeslaan.
Jonathan Roxmouth, wat die hoofrol by André Schwartz oorgeneem het in The Phantom of the Opera, is benoem as beste akteur vir ’n vertolking in ’n musiekspel.
Daarby is albei die Phantom se geliefde Christines – Magdalene Minnaar én Robin Botha – vir beste vertolking in ’n musiekspel benoem.
Solomon and Marion handel oor ’n bejaarde wit vrou wat die geweld van die verlede afsweer danksy ’n vriendskap met ’n jong, swart man.
Sy vertolking van Solomon het aan die akteur Khayalethu Anthony ’n benoeming as beste akteur besorg, terwyl Janet Suzman se Marion haar in die wedloop vir beste aktrise plaas.
Voorts het dié stuk van Foot, bekend vir die drama Tshepang, ook benoemings gekry vir beste regisseur, beste stel- of rekwisiete-ontwerp, beste beligting en beste nuwe Suid-Afrikaanse toneelstuk.
In Anthony se geselskap is Dawid Minnaar vir Purgatorio, Carel Nel vir Die rebellie van Lafras Verwey en Antony Sher vir Broken Glass ook benoem.
Suzman meet kragte met Antoinette Kellermann en Wilna Snyman vir Klaasvakie en Susan Danford vir Broken Glass.
Roxmouth is weer in die gedugte geselskap van Cito vir Jesus Christ Superstar, Eben Genis vir Die kortstondige raklewe van Anastasia W en Marc Lottering vir Some Like it Vrot.
Minnaar en Botha is in die koor saam met Nádine vir Jesus Christ Superstar en Nicole Holm vir Die kortstondige raklewe van Anastasia W.
Ander benoemings is:
- Beste vertolking in ’n revue, kabaret en/of solovertoning: Anthea Thompson (Seashells), Roxmouth (Hats Off!), Pieter-Dirk Uys (Desperate First Ladies) en Nicola Hanekom (Hol).
- Beste regisseur: Albert Maritz (Die rebellie van Lafras Verwey), Clare Stopford (Purgatorio), Foot (Solomon and Marion) en Marthinus Basson (Klaasvakie).
- Beste nuwe Suid-Afrikaanse toneelstuk: Burnt van Ian Bruce, Hol van Nicola Hanekom, Die kortstondige raklewe van Anastasia W van Marlene van Niekerk en Solomon and Marion van Foot.
- Beste mansbyspeler: Andrew Laubscher (Lovborg’s Women), David Dennis (Tragedy of Richard III), Jeroen Kranenburg (After Cardenio) en Owen Sejake (Die kaptein se tier).
- Beste vrouebyspeler: Anthea Thompson (Broken Glass), Louise St Claire (The History Boys), Nicole Holm (Klaasvakie) en Tinarie van Wyk Loots (A Midsummer Night’s Dream).
- Die Fleur du Cap-wenners word op 18 Maart in Kaapstad bekend gemaak.

Nicole Holm in Die kortstondige raklewe van Anastasia W.