Poolse wenner van Nobelprys sterf op 88
2012-02-06 22:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Poolse digter Wislawa Szymborska is verlede week in Krakow, Pole, oorlede.
Szymborska (88) het in 1996 die Nobelprys vir letterkunde gewen, maar in Suid-Afrika het haar werk betreklik onbekend gebly.
Hoofsaaklik en vanselfsprekend om taalredes, het dié wonderlike digter, selfs ná haar Nobelprys in Suid-Afrika betreklik onbekend gebly, sê die skrywer André P. Brink. Hy noem dit ’n jammerte, “want die verruklike verfyning wat sy in haar liriese poësie bereik – onder meer toeganklik gemaak in die bloemlesing van uitgesoekte gedigte Nothing Twice van 1997 – bring vir enige poësieliefhebber ’n seldsame verryking.
“Was dit nie vir my Poolse vrou, Karina, nie, sou sy bes moontlik aan my verbygegaan het; maar nou bly sy een van ’n klein uitgelese groepie wat tel onder die onmisbares in enige taal op aarde – iemand wat gereken kan word saam met Rilke of Emily Dickinson of Valéry of, nader tuis, Eybers of Van Wyk Louw. Onvergeetlik is veral haar vasvang van die vlietende, haar deursigtige begrip van die vervlugtige oomblik, haar sintuig vir die weemoed van die verganklike, van alles waarvan gesê kan word ‘it’s in its nature not to stay’.
“Soos in die onvergeetlike ‘Nothing Twice’:
“‘Nothing can ever happen twice / In consequence, the sorry fact is / that we arrive here improvised / and leave with-out the chance to practice.’
“Sy het die vermoë gehad om altyd by die algemene verby te kyk na die unieke en die uitsonderlike, om ons menslikheid te vind en te vier in alles wat afwykend is en nooit geyk of gemeenplasig kan word nie.”
Sowat 20 digbundels het uit haar pen verskyn, een elke vier of vyf jaar. ’n Handjievol daarvan is in meer as ’n dosyn tale vertaal.
Die Szymborska-gedig “Love at First Sight” was die inspirasie vir die enigmatiese rolprent Red van die ontslape Poolse regisseur Krzysztof Kies-lowski, berig Sapa-AP.
Die Poolse minister van buitelandse sake, mnr. Radoslaw Sikorski, beskryf haar oorlye as “’n onvervangbare verlies vir die Poolse kultuur”, berig De Volkskrant.
Szymborska is op 2 Julie 1923 in Bnin, naby Poznan in die weste van Pole, gebore. Sy het in die departement van letterkunde en sosiologie aan die Jagiellonian-universiteit in Krakow gestudeer en die res van haar lewe in dié stad gewoon.
Sy is Woensdag in haar slaap tuis in Krakow oorlede, het haar assistent, mnr. Michal Rusinek, gesê, berig Sapa-AFP.