Rihanna kán kers vashou vir Missy
2012-02-07 22:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Soms smag ’n mens nog na die gatskop-bravade waarmee Missy (Misdemeanor) Elliott die treffersparades en dansvloere aan die brand gesteek het.
Daar was nog nie ’n vroue-rapper in die internasionale pop-arena van dieselfde statuur sedert Elliott stiller geword en meer by produksieleiding betrokke geraak het nie.
Dansmusiek (en selfs rap) maak nou bykans toenemend op leengoed en voorafverpakte formules staat.
Al is Rihanna nie ’n rapper nie, het sy darem die afgelope sowat sewe jaar met haar onversadigbare vurigheid by tye net so hard gegrom soos Missy.
Talk That Talk, wat verlede jaar teen die einde van November uitgereik is, toon geen tekens van die sogenaamde “seven year itch” nie. Hier is nie spore van opsigtelike koersveranderings nie. Haar ergste bloeddorstigheid en aggressie het sy op albums soos Good Girl Gone Bad en veral Rated R verwerk.
Haar sesde album is ’n distillasie van die verskillende musikale gemoedstemmings waardeur Rihanna al in haar musiekloopbaan gereis het. Dit is ’n besonder kort reis – altesame 11 liedjies en die totale speeltyd is net 37 minute.
Wat die eindproduk geensins skaad nie. Rihanna en haar span produksieleiers is op die man (én vrou) af en het nie enige nagedagtes of halfgebakte nommers ingesluit nie.
Rihanna se idee van liefde, romantiek en verhoudings is allesbehalwe tradisioneel, al sing sy We Found Love saam met die Skotse musikant Calvin Harris. In daardie opsig deel sy en Missy Elliott ’n langer lys ooreenkomste en vervaag die verskille.
Missy sou haar goue kettings opoffer om Cockiness (Love It) op een van haar solo-albums te kon insluit. Shondrae (Mr. Bangladesh) Crawford was die produksieleier vir dié dansrap-snit waar Rihanna soos ’n straatkat kwispel: “suck my cockiness, swallow my persuasion...”
Cockiness (Love It) is een van die oorspronklikste snitte wat Rihanna al opgeneem het en ’n voorbeeld van hoe musiek en liriek tot ’n speelse tweegesprek verwerk kan word.
Die res van die album skitter nie oral met die môredou van varsheid nie, maar bied eerder aan Rihanna die kans om te bewys hoe sy haar stoute kwasterigheid in donderdeuntjies kan omtower.
Die liedjie Where Have You Been steun dalk swaar op Daft Punk-inspirasie vir sy elektro-ritmes, maar dit is darem nie so blatant soos soveel van Rihanna se ander tydgenote nie.
We All Want Love is een van die ligter oomblikke en ’n oorrompelende ballade, maar nie genoeg rede om hierdie CD ’n Valentynsdaggeskenk te maak nie. Die omslag bevat boonop ’n waarskuwing teen die eksplisiete inhoud en Rihanna is nogal lief vir die F-woord.
Laat die aantal liefdeswoordjies in die liedjietitels nie ’n wanindruk skep nie. Rihanna se tong én naels is steeds vlymskerp en al bely sy dat sy met haar hart op haar mou rondloop, kan sy met een byt ’n bloedspoor laat.
Talk That Talk is een van Rihanna se bestes, so op ’n onverhoedse manier.