Hy is al beskryf as een van die beste tromspelers in pop en rock,
maar die 70-jarige Bobby Elliott gesels met die rustige gelykmatigheid van jou
gunsteling-oom.
Elliott slaan al sedert 1963 die tromme vir die Britse groep The
Hollies, wat Suid-Afrika vandeesmaand weer besoek. Dit is ’n leeftyd, en Elliott
het in hierdie tyd sy stokkies as sessiemusikant vir min ander groepe geswaai.
“Dit is ’n vreemde gevoel as ’n mens ná soveel jare terugkyk op die
pad wat jy geloop het,” sê hy oor die telefoon uit Londen.
Dit is dalk aan die
ander kant van die aardbol, maar ’n mens kan jou amper verbeel hoe hy terugsit
en terugdink.
“As jy hier, op The Hollies se 50ste herdenkingstoer, terugkyk,
besef jy die getal jare is irrelevant en sien jy net die mylpale. En eintlik
voel dit alles soos gister – dit is nogal vreesaanjaend.”
Hy aanvaar die kompliment oor sy beste-ter-wêreld-tromspel met
grasie.
“Weet jy, as ’n mens jonger is en mense maak ’n ophef van jou, kan
jy maklik glo jy is die beste en niemand kan jou meer iets leer nie. Maar soos
die tyd aanstap, besef jy dit is ’n groot fout.”
Hy noem die musiekbedryf “a funny ol’ game”. “Dit bly maar ’n
wipwaentjierit. Partykeer is jy heel onder en later besef jy hoe gelukkig jy is
om nog te kan speel.”
Op sy ouderdom het baie van sy eweknieë al afgetree, dikwels ná ’n
lang loopbaan in ’n werk wat hulle nie regtig wou doen nie, sê hy.
“Maar daar is niks anders wat ek eerder wou doen nie. Hierdie ding
is soos ’n dwelm. Daardie beswyming as jy klaar is met ’n vertoning en die
gehoor juig. Daar is niks wat dit klop nie.”
Hy en Tony Hicks van die groep bestuur The Hollies soos ’n
onderneming, sê hy. “Ons is in beheer van die rigting wat die groep inslaan en
ons kan kies wat ons wil doen.”
Maar nooit sou hy daar in die beginjare kon droom dat The Hollies
so lank sou bestaan en nog steeds sou toer nie.
“As ek nou terugdink, besef ek ons het verwag om dalk vir so twee
of drie jaar musiek te maak. Ons het begin in die dae toe
Cliff Richard en The
Beatles begin naam maak het.”
The Hollies was deel van die sogenaamde Britse Inval, toe Britse
groepe in die 1960’s die Amerikaanse musiekbedryf begin oorheers het.
“Dit is ’n eer en ’n voorreg om nog hierdie liedjies uit te voer
wat vir ons so baie beteken het,” sê Elliott.
Ná soveel jaar kan ’n mens nie regtig van hierdie liedjies
uitsonder nie. “Ek reken Long Cool Woman in a Black Dress het vir
ons baie beteken. En as ek so vinnig moet kies, sal ek Away Away Away
uitsonder van ons Butterfly-album (1967) as ’n liedjie wat
dalk nie hoofstroomsukses behaal het nie, maar wat ek dink ’n goeie liedjie
was.”
So deur die jare kon hulle altyd met redelike sekerheid voorspel
watter snitte op ’n nuwe album treffers sou word. Elliott sê daar was ’n paar
kere wat hy bewus was van “magic”: oomblikke wat hy net spontaan hoendervleis
gekry het.
Een so ’n oomblik was tydens die opname van hul album Hollies in 1974 in die ateljee van die ingenieur Alan Parsons. “Toe
die kitaarsolo in The Air That I Breathe vir die eerste keer deur
die Leslie-luidspreker kom, was dit pure betowering.”
Dit sal nie The Hollies se eerste besoek aan Suid-Afrika wees nie.
Hulle was in 1997 ook hier. Elliott onthou hoe hulle skaars in Kaapstad geland
het toe hulle reguit na die kabelkarretjie teen Tafelberg is vir ’n
fotosessie.
“Ons sien natuurlik baie daarna uit om weer in Suid-Afrika op te
tree. Die gehoor kan uitsien na al die groot, ou treffers en ook ’n paar
verrassings.”
- The Hollies is op 23 Februarie in Kaapstad se Grand Arena by
die GrandWest-casino en op 25 Februarie in die Big Top-arena by Carnival City.