Uitstalling oorbrug grense met abstraksie
2012-02-09 22:40
Die galery van die Universiteit van Johannesburg (UJ) bied tans ’n uitstalling aan van werk van die Japanse Gutai-beweging, dié van Christo Coetzee en ’n aantal werke deur Suid-Afrikaanse kunstenaars wat soortgelyke abstraksie as dié van die Gutai-beweging eggo.
Die kurator van dié uitstalling, Transnational Modernism: The Gutai Art Associa-tion, Christo Coetzee and the Legacy of Abstract Expressionism in South Africa, is Wilhelm van Rensburg, navorsingsgenoot aan die universiteit se fakulteit vir kuns, ontwerp en argitektuur.
Tydens sy verblyf in Japan in 1959-’1960 het Coetzee tekeninge van stigterslede van Gutai bekom. Dié werke is in 1975 aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ) geskenk.
Dié avant-garde Japanse beweging is in 1954 begin deur Yoshihara Jiro, Kanayma Akira, Murakami Saburo, Shiraga Kazuo en Shimamoto Shozo. Die naam van die beweging kom van die woord wat vertaal word met “beliggaming” of “tasbaar”.
Teen die mid-1950’s het Gutai vorendag gekom met happenings en performance-kuns en eweneens ’n merk gelaat op hedendaagse installasiekuns.
In die beweging se handves word verwys na ’n sug na skoonheid wat tot stand kom wanneer iets beskadig word of verval. Die proses van destruksie is derhalwe gesien as ’n poging om die “innerlike lewe” van ’n objek na vore te laat kom.
Die beweging het op transnasionale samewerking gefokus, met uitstallings wat werk ingesluit het van beroemde Amerikaanse abstrakte ekspressioniste soos Jackson Pollack, Willem de Kooning, Robert Motherwell en Franz Kline; die Nederlandse CoBrA-kunstenaar Karel Appel; die Italianer Luigi Fontana en die Franse art autre-kunstenaars van die 1950’s en 60’s, onder andere George Mathieu en Jean Fautrier.
Die Gutai-groep het ook gewerk saam met die bekende Franse kunsteoretikus Michel Tapie de Ceyleran, ’n goeie vriend van Coetzee.
Van Rensburg het skilderye ingesluit wat Coetzee in Japan en kort ná sy terugkeer na Suid-Afrika voltooi het, asook werk deur ’n volgende geslag prominente transnasionale modernistiese Suid-Afrikaners, onder wie David Koloane, Louis Maqubela, Pat Mautloa, Bill Ainslie, Geoffrey Armstrong, Nel Erasmus, Fred Schimmel en Hannatjie van der Wat. Dié kunstenaars werk in dieselfde abstrakte aksie-styl as die Gutai-beweging.
Hy het ook werk deur sommige kontemporêre Suid-Afrikaanse kunstenaars tot die versameling gevoeg, onder andere van Moshekwa Langa, Samson Mnisi, Marcus Neustetter, Ruth Rosengarten, Nathaniel Stern en Jaco van Schalkwyk – kunstenaars wat steeds in die abstrakte ekspressionistiese styl werk, hoewel met ’n dramatiese tematiese verskuiwing en met ’n hutspot vol nuwe media tot hul beskikking.
Die uitstalling duur tot 29 Februarie.
- Môre om 11:00 bied Van Rensburg ’n lesing in die galery aan en op Saterdag 25 Februarie om 11:00 is daar ’n lesing deur Gerard de Kamper, hoofkurator van die UP-kunsversameling.
Navrae: 011 559 2099.