Van Heerden sweet oor Engelse ‘Amsterdam’
2011-02-15 23:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Etienne van Heerden se 30 nagte in Amsterdam is pas in Engels uitgereik as 30 Nights in Amsterdam. Die bekroonde vertaler Michiel Heyns was Van Heerden en die uitgewer Penguin se keuse.
Van Heerden, wat met dié roman sy tweede Hertzog-prys gewen het, sê die roman word tans in Nederlands en Letties vertaal. Oor die telefoon het hy genoem hy is senuagtig oor die uitreiking van die Engelse vertaling.
“Ek is nie senuagtig oor die vertaling of die vertaler nie. Michiel Heyns is ’n uitstekende vertaler. En die digter Isobel Dixon is ons albei se agent (in Brittanje). Sy het grootgeword in Graaff-Reinet in Somersetstraat, dieselfde straat as die huis, en haar ma bly nog so ’n blok weg van die huis waar ek as kind gewoon het en wat my ouma se huis was, en wat ek fabulerend gebruik – let op my formulering?– as ruimte in die roman.
“Isobel het ook ’n groot bydrae gelewer tot die versorging van die vertaling.
“Michiel het werklik uitstekende werk gedoen. Maar waaroor ek senuagtig is, is daardie hele kompos van Afrikaanse lewensdinge, jy weet: daardie kompos wat die teks is, Afrikaanse lewenservaringe, ervaringswêreld?…?Of die Afrikaansheid beweeg na Engelsheid.
“En dit is iets wat veral te make het met wat elke leser as geheue ronddra, met memory and forgetting; so ’n mens is maar altyd senuagtig as jou boek in ’n ander taal uitgegee word.”
En Engels bestaan uit verskeie markte. “Die ontvangs van dieselfde boek in verskillende lande?…?dis geweldig verskillend.”
Dit gee iets te kenne van die begrip van Suid-Afrika in ander lande. “Hul begrip van die land, hul verwagtingshorison, wat hulle wil lees; dit gaan oor ideologiese bagasie, állerlei dinge. Dit gaan miskien oor ’n wêreld wat net te vreemd is. En net te eie is aan iets anders. Miskien nie eksoties genoeg is nie. Die eksotika is ’n groot draer van andersheid, maar die Karoo is nou nie so eksoties as wat Indië is nie.”
Hoe voel hy oor daardie soort benaming, dat ’n oorsese mark dit wel as iets eksoties kan beskou?
“Ek is baie versigtig oor die opvoering van die eksotika. Want ek dink dit kan ’n baie goedkoop manier word om dinge te verkoop.”
Sy stemtoon daal: “Ek is nie gewillig om daardie soort kniebuigings te doen nie. Na ’n soort eksotika vir verbruik oorsee nie. Dit is ook nie in die aard van hierdie teks nie.”
Dan op ’n toon wat hink tussen verligting en tevredenheid: “Maar Michiel het ’n uitstekende vertaling gedoen, veral dié dele wat ek noem Zan-speak (die taalgebruik van een van die karakters). Daardie soort verwronge sintaksis – turbotaal – dis ’n soort geheue in die taal. En dit dra aan daardie kompos?…?Dis ’n kulturele alfabet. En vir Michiel om dít te geneem het en met one big heave oor te dra na die Engelse wêreld toe; dit is natuurlik nie maklik nie.
“Michiel het in ’n Afrikaanse huis grootgeword. Dit was vir my belangrik om ’n vertaler te hê wat baie goed vertroud is met die Afrikaanse wêreld. Want eers dán kan jy korrek en behoorlik worstel met hoe die boek na ’n Engelse wêreld moet uitgaan.”
Beskou hy die vertaling van sy werk as ’n nuutmaking, ’n herverbeelding van die taal?
“In die geval van Michiel: herverbeelding, absoluut. Een van die punte wat hy geopper het, was in die roman self. Daar het jy die karakter Henk, en Henk se moeder in die boek was ook Engels. So Henk het ’n Engelse verwysingsveld. Gedeeltelik.
Dit regverdig dan die idee dat jy in jou soektog na ekwivalensie – want dis tog wat vertaling is – ’n Engelse verwysingswêreld ook aktiveer. Maar jy moet herverbeel om daardie ideaal te kan bereik in die teikentaal. Om dit te doen moes hy groot spronge gee.”
Raak vertaling ooit iets waarvan hy bewus word in die skryfproses? “Dis iets wat jy absoluut bewustelik moet beveg. As ek nou bekommerd was oor of hierdie boek gaan travel, het ek Zan nie geskep nie, het ek ’n soort neutrale, joernalistieke Afrikaans in haar mond gesit. Dit was amper vir my ’n toets?… miskien teen die eise van markkragte.”