Dié boek van 666 bladsye met sy kaarte, foto’s, tabelle en massale navorsing (tot in die Portugese argief in Lissabon) ontruk die verhaal van die Angola-Boere aan die vergetelheid – “ …?hierdie klein, vergete episode in die trekgeskiedenis van die Afrikaners?…”
Dis ’n sonderlinge storie van ’n verstrooiingsgemeenskap, een van talle in tale wêreldwyd en, hoewel kleiner, die voorloper van die “Nuwe Groot Trek” oorsee sedert 1994.
Dit begin met die Dorslandtrekkers wat hulle sedert 1881 om verskeie redes in groepe uit Transvaal en die Vrystaat in Angola vestig en hulle in byna ’n eeu in drie migrasies in hul land van herkoms hervestig – met staatsteun in 1928 en 1958 en op vlug in 1975 weens die bevrydingstryd in Angola. Hulle kry hul naam van dorstige ossewatrekke deur die Kalahari tot op die Angolese hoogland by Humpata en later op nog 69 plekke landwyd.
Die Portugese sien hulle as ’n buffer teen die inheemses teen wie hulle in 22 oorloë gebruik word.
Hul ossewa met sy nuwe tegnologie word deur die Portugese oorgeneem, maar sonder woordbegrip – vandaar dat ’n pikswart os “Witlies” gedoop word en ’n bonte “Rooiland”.
Die aanvanklike goeie verhouding tussen trekker en Portugees versleg – die Boere sien neer op hulle en die Portugese owerheid lê hulle allerlei klippe in die pad. Die Boere kom beter oor die weg met die inheemses en goed met die “mak volk” wat saam op trek was – tranerig as hulle met migrasies van mekaar geskei word.
Op die eerste trekke volg ander en teen 1926 is daar sowat 435 Boergesinne van 1 600 tot 2?000 siele, asook enkelinge van ander nasies.
Hulle oorleef uit boerdery, transportry en jag, maar is nie wafferse boere nie en “werksku”, wat beteken hulle hou nie van vernederende werk nie; maar dit lyk altevol na luiheid. Die meeste bly arm.
Met die koms van die spoorweë ly hulle teen 1945 een van hul grootste ekonomiese teenslae – die einde van die goue eeu van transportry. Jag bly nog oor en hulle skiet só dat kol. F.C.R. Statham hulle in die 1920’s ná ’n besoek “that great enemy of all wild things” noem. “They were to the game of the land as the locusts were to the grass.”
Barend Ludeke skiet 75 tot 100 krokodille per jaar, 300 tot 400 bastergemsbokke op bestelling en vra ’n hotel of winkel hom vir vleis, ry hy met sy bakkie en skiet 75 tot 100 duikers per aand langs die grootpad met sy .22-geweer.
Aard, hemel en mens bepaal hul leefwêreld, maar die Dors-trek sit in hulle en kom tot uiting in wat W.A. de Klerk bewoord as “die rustelose siele”. Onderwys kry min aandag, ook van die staat en kinders moet werk om die groep te help oorleef.
Hulle is kerkmense, veral Doppers, wat stry en die Hervormers vat oor. Hulle is nie losbandig nie, maar besondig hulle soms aan “wereldsche dansen” en kom onder sensuur. Ontug, tot oor die kleurgrens, vind ook plaas.
Hulle bly sonder titelakte op hul grond en word deur die owerheid ingeperk, wat bydra tot ’n verlange “huiswaarts”. In 1928-1929 vestig 373 gesinne (sowat 1?922 siele) hulle met Suid-Afrikaanse staatsteun in Suidwes-Afrika. Sowat 386 siele bly agter, van hulle omdat hulle gekleurde afstammelinge is wat weens apartheid nie hier toegelaat word nie.
Tussen 1958 en 1963 word nog 456 na Suidwes en Suid-Afrika gerepatrieer en van hulle kry werk by die spoorweë teen £36 per maand – ’n goeie salaris vir onopgeleides. (In 1954 moet jy gegradueer wees om by ’n Afrikaanse koerant te begin teen £50 per maand.) Verskeie kla oor “kafferwerk”, hoewel hulle bo miljoene landsbewoners bevoorreg word.
In 1975 is minstens 554 Boere-nasate onder die sowat 3 500 tot 4?000 Portugese wat uit Angola vlug en hulle permanent in Suid-Afrika vestig.
Die boek beslaan vyf dele met elk ’n oneweredige getal bladsye van 9, 59, 219, 43 en 18. Die verhaal strek veel wyer as die titel.
Die boek is wydlopend en eers op p. 139, met Hoofstuk 6, kom die ware onderwerp aan die beurt.
* Van Wyk is ’n historikus.