Winter se gevoel kruip onder jou vel in
2011-08-16 23:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Ek kan dink hoe dit destyds met die Goudstormloop moes wees toe goudsoekers vir ure deur koue en modderige water moes sif op soek na ’n stukkie alluviale goud.
Dit is amper met daardie verwondering waarop ’n mens met Laurie Levine se Six Winters in die hand bly staan.
Die atmosferiese wintergevoel wat die albumomslag reeds skep, word onmiddellik verder gevoer met die begin van Oh Brother, maar dit is die snit Six Winters wat veral onder jou vel inkruip en daar hiberneer.
Hier is sprake van ’n sterk folk-inslag, gekombineer met ’n tikkie bluegrass en die waagmoed om selfs elektronica saam met ’n viool te laat dans.
En luister maar hoe mooi sing die mondfluitjie saam op Where My Soul Sings.
Die albumomslag verklap nog ’n paar ander speelgoed: daar is ’n banjo, mandolien, ukulele, tjello en outoharp wat onder meer nader getrek word, asook die akoestiese en elektriese kitaar en kontrabas.
Die resultaat van dié gul vermenging van instrumente is ryk, vol en sterk atmosferies. Dan Roberts het as regisseur hom puik van sy taak gekwyt. En pret gehad, vermoed ’n mens.
Levine se stem herinner by tye aan Katie Melua. Dit is met dieselfde nostalgiese ondertoon wat sy jou aan die hand neem en langs loom kronkelpaadjies lei.
Die lirieke vertel ook van paaie wat soms vol duwweltjies lê. In I Won’t Ask Him Why suggereer sy iets van in ’n verhouding wees met iemand met ’n verslawing: “And in the moonlight I’m watching him laugh / he throws back his head stumbles / He can barely stand / I close my eyes and I wish for morning / But it’s so slow / Slow in coming.”
Stray vertel die storie van ’n vrou wat immer reis, lêplek kry, maar nooit lank bly nie: “She’s counting her luck like she’s counting her catch / she’s on the run again.”
Dikwels laat die lirieke jou met ’n vermoede en suggestie eerder as ’n mooi verpakte storie.
Gaan luister ook na ’n gestroopte, selfs afgetakelde weergawe van Johnny Cash se Ring of Fire.
“Is there anything in the world sadder than a train standing in the rain?” het Pablo Neruda geskryf.
Dit is amper met daardie gevoel wat Laurie Levine jou hier agterlaat: ’n Bietjie ouer, wyser en meer verweer ná ses winters in die reën.