Woordsmede in aksie
2010-09-19 21:50
‘Oopmond maak van digkuns vet pret.”
Aan die woord is Ronel Nel, stigterslid van hierdie vrolike woordspeletjie wat verlede jaar amper spontaan lewe op die Aardklop-kunstefees gekry het en nou weer tydens die Innibos-fees einde vandeesweek in Nelspruit beleef kan word.
“Die produksie is nou vinniger en meer vaartbelyn. Daar is struktuur – en beautiful chaos.”
Nel vertel die idee vir Oopmond het ontstaan uit die ou Bekgevegte wat ’n bietjie windbestuiwing van die Battle of the Bands gehad het.
Wat dit veral pret maak, is dat die verloop van gebeure in die gehoor se hande lê.
Nel verduidelik: “Die gehoor kies ’n onderwerp wat hulle dan vir die ses gepubliseerde digters op die verhoog gee.
Die digters besluit vinnig onder mekaar of die onderwerp sal werk en dan spring hulle aan die werk om binne tien minute ’n nuwe gedig te skryf.”
Die digters kry spesiale verhoogname vir dié gedoente. Nel, wat self ’n digter is, neem ook deel as Ingrid Dronker.
Aan haar sy is N.P. van Lykskou (Danie Marais), DJ Stotterman (Andries Bezuidenhout), Joe Moer! (Johannes Prins), Breyten Lykverdag (Niel van Deventer) en René Renaaisaans (René Bohnen).
Die gebeure op die verhoog word stewig in die hande gehou van Melt Sieberhagen, wat as die seremoniemeester optree onder die skuilnaam Hoerneef.
Terwyl die muse met die digters praat, word die gehoor getrakteer op musiek deur Elvis Prinsloo (John-Henry Opperman) en Kort Derm (Dawie de Jager) van Klopjag, asook Erik Klaphom (Nardus du Plooy) en Steve Vaierband (Jaco Lötter) van Die Kaalkop Waarheid.
Sheila Concussion (Charlene McKenzie) is die fluitjieblaser en sy het die reputasie as die mees gedugte poësieskeidsregter in die land.
Nou is die gedigte klaar en die digters lees dit voor, waarna die gehoor sy gunsteling kies.
En dadelik word die pasgebore gedig na agter geneem waar die musikante dit binne 20 minute moet toonset.
“Dit klink ingewikkeld, maar dit is glad nie,” sê Nel.
Sy sê die digters op die verhoog is almal ervare en talentvolle woordsmede.
“Die gehoor het al in die verlede gedink ons het die idees geplant, so verstom was hulle waarmee die digters vorendag kom.
Dit is natuurlik glad nie waar nie; dit is net die lewenslange ervaring van hierdie mense wat surface.”
Toe Oopmond verlede jaar vir die eerste keer op die ATKV-verhoog op Aardklop te sien was, was die proses nog organies aan die ontwikkel en niemand het geweet of dit gaan werk nie.
Tog het die gehoor by dié oop verhoog stelselmatig aangegroei en dié wat gaan sit het, het nie sommer geloop nie.
“Ek dink dit is omdat dit so wonderlik is om te sien hoe word ’n gedig en ’n liedjie hier voor jou gebore, en dan is dit boonop iets van goeie gehalte.”
Oopmond gebeur Donderdag om 18:00 op die Bosmôlverhoog op die Innibos-feesterrein.
Die vertoning is gratis, maar die hektoegang van R50 tot die feesterrein geld.