’n ‘Bommetjie’ in boek versteek
2010-06-25 23:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Eugène Terre’Blanche, my storie, soos vertel aan Amos van der Merwe. Griffel. R220.
Dalk kon dit nie anders nie as dat ’n man met ’n welluidende naam soos Eugène Ney Terre’Blanche ’n opspraakwekkende lewe sou lei.
Tog vertel hierdie boek ook die verhaal van ’n man wat maar gaandeweg in sy openbare lewe begin verstaan het watter kragte om hom aan die werk was en wat sy rol daarin was.
Daarmee saam kry die leser soms ’n indruk van selfondersoek, vertwyfeling en selfs transformasie wat min mense met die Groot Karwats se openbare beeld sou assosieer.
Die vertelling van sy ervarings in die Rooigrond-gevangenis en die invloed van sy pa se mislukte poging om tot senator verkies te word op hom is in dié opsig oortuigend en selfs roerend.
Maar ja, daar is ook die selfregverdiging en weiering om verantwoordelikheid te aanvaar.
Hy vra byvoorbeeld weer – net soos voor die Waarheid-en-versoeningskommissie – om verskoning vir die skade wat die destydse teer-en-veer-voorval prof. Floors van Jaarsveld se loopbaan aangedoen het, maar vertel nogtans met nostalgiese opgewondenheid hoe die “aanval” beplan is:
“Moeder het ’n paar van haar kussings stukkend gesny en vir ons ’n lekker sloop vol vere gemaak.”
En met die gedoemde “inval” van Bophuthatswana het iemand hom bedwelm sodat hy nie sy manne behoorlik kon lei nie:
“Nee, dit het niks met drank te doen gehad nie. Dit was ’n oorlogsituasie en geen partytjie nie.”
En die AWB is keer op keer uitverkoop en met die sak patats gelaat deur ander regse organisasies met minder integriteit.
En FW de Klerk en “hulle” het die Slag van Ventersdorp haarfyn beplan.
Feitlik nooit is dit Terre’- Blanche wat fouteer nie, behalwe om hom te misreken met die omvang van sy martelaarskap: “Ek het al baie gewonder of ek nie maar net ’n marionet in ’n poppespel was nie.”
My storie is goed versorg en aangebied deur die uitgewers Griffel Media, en die leser raak gewoond aan die ietwat vreemde verskynsel van ’n outobiografiese vertelling onder iemand anders se naam.
Terselfdertyd wonder ’n mens oor die verhouding tussen skrywer en verteller.
Waarom het ’n man met Terre’Blanche se slag vir woorde dan iemand anders nodig gehad om die skryfwerk te doen?
En hoe kan dit byvoorbeeld wees dat iemand wat oënskynlik so wyd belese soos Terre’Blanche is – Tony Leon, Steve Biko en Nietzsche word onder andere aangehaal – en sy besef van die krag van simboliek het, oor dekades nie kon of wou besef watter skade daardie Nazi-agtige AWB-embleme hul saak aangedoen het nie?
Dis gepas dat daar in My storie ook ’n bietjie van ’n bom weggesteek is: Die bewering dat ’n polisieman in 2008 teenoor “Oom Gène” sou gebieg het oor wie werklik verantwoordelik was vir die aanval waarvoor hy tronkstraf uitgedien het.
“Die identiteit van daardie aanrander en sy makkers is aan my bekend en is verseël in ’n koevert wat in veilige bewaring is.
“Sou iets, sê nou maar onnatuurliks, met my gebeur, sal daardie inligting bekend gemaak word.”
Die tyd sal leer of daar dié keer werklike substansie agter die melodrama is.
Kempen is ’n oudhoofredaksielid van Beeld .