Machine Gun Preacher
2012-01-20 06:00
Aksie
3/5
Met Gerard Butler, Michelle Monaghan, Michael Shannon, Madeline Carroll
Regie: Marc Forster
Onbeskaamde, blatante, emosionele manipulasie: Dís uiteindelik die hoofkenmerk van Jason Keller se draaiboek.
Machine Gun Preacher handel oor die lewe van die Amerikaner Sam Childers, wat ’n merkwaardige transformasie ondergaan en in Suid-Soedan beland.
Met Bybelse visioene – soos om die wapentuig teen “die bose” op te neem, bendes storm te loop en die vyand te verslaan – is al vele oorloë in die naam van die Christendom gevoer.
Hier is dit anders: Childers se persoonlike bekering het hom radikaal verander. Hy wou sy medemens in nood in ’n vreemde land, en bowendien midde-in ’n oorlogsituasie, bystaan.
Childers se biografie het ’n aanloop, maar die regisseur Marc Forster se hantering daarvan is onnodig lank. Hy was lid van ’n motorfietsbende en ook ’n dwelmhandelaar, suiplap en moordenaar. Nadat hy tronkstraf uitgedien het en na sy gesin terugkeer, wink die ou weë opnuut – totdat sy vrou, Lynn, hom met heelwat moeite oortuig om kerk toe te gaan. Kort daarna word hy gekersten en gedoop.
Die eerste uur van Machine Gun Preacher ploeter voort. Al voel dit asof die bekering te simplisties gebeur, is die gevolge oortuigend.
Childers (Gerard Butler, wat sy rol merendeels oortuigend speel) neem verantwoordelikheid en reik sy hand uit om ander te help.
Wanneer ’n prediker uit Afrika in hul gemeente optree en die oorlogsituasie en gevolglike nood in Suid-Soedan en Uganda skets, is Childers spoedig op pad daarheen.
Dit is ’n wrede, weersinwekkende episode van uiterste geweld teenoor vroue en kinders wat voor die kyker se oë afspeel. Niks word versag nie. Elke detail van een die grusaamste konflikte van ons tyd word realisties vertoon.
Childers raak so obsessief daaroor dat hy vir die eerste keer in sy lewe sy energie vir noodbehoewendes aanwend, dat hy sy eie gesin in die VSA begin afskeep. Hy kom slegs huistoe om nog meer geld in te samel vir die skool en kerk wat hy vir weeskinders opgerig het, terwyl hy hul vyande onverpoosd bly afmaai.
Dié fliek gaan kykers verdeel weens sy morele wydlopigheid.
Op ’n sekere vlak is dit inspirerend; jy kan nie daarvan loskom nie, dit laat jou nadink.
Maar die gedeeltes waar melodrama en sensasie domineer, raak net te veel van ’n Achilleshiel vir al die goeie bedoelings.
Ouderdomsperk: 16GTD.
Tydsduur: 128 minute.
- Soortgelyke prent: The Last Samurai