Edgar’ die swakker pyl in Clint se koker
2012-01-27 06:00
J. Edgar
Drama
3/5
Met Leonardo DiCaprio, Naomi Watts, Judi Dench, Armie Hammer, Josh Lucas
Regie: Clint Eastwood
Dit is aan J. Edgar Hoover te wyte dat daar vandag ’n perk van tien jaar op die termyn van die direkteur van die FBI is.
Dié skepper en dekades lange direkteur van die FBI is bekend om sy “geheime leggers” en die mate waartoe hy sy hand oorspeel het. Te veel vertroulike inligting – en die mag wat dit bring – baat niemand nie, is die boodskap.
Hoover is die onderwerp van Clint Eastwood se biofliek J. Edgar. Dis allermins ’n dwingende prent, maar nietemin interessant in die beeld wat Eastwood van Hoover skep as ’n man wat bykans verslaaf was aan ander se goedkeuring.
Eastwood hanteer die langdurige gerugte oor Hoover se seksuele oriëntasie as meer van ’n gegewe: Van die eerste oomblik wat Hoover (Leonardo DiCaprio) die jong man Clyde Tolson (Armie Hammer) raaksien en aanstel as sy tweede in bevel, is dit duidelik dat sy behoeftes nie slegs professioneel en platonies is nie. Of die gekluisterde Edgar ooit daarop gereageer het, bly ’n ope vraag.
Die geskiedenis dui in elk geval dat Tolson wel Hoover se permanente bondgenoot en vertroueling was; die twee het selfs saam vakansie gehou.
Die arena waarteen dié verhouding afspeel – Hoover se stigting en uitbou van die FBI – word in terugflitse uitgebeeld, soos wat ’n bejaarde Hoover (ook DiCaprio) sy storie aan ’n reeks jong skrywers dikteer. Ons leer ken ’n man wat sy land se sekuriteit as die hoogste prioriteit ag, maar ons sien ook ’n man wat nie bang is om die reëls na sy eie agenda te buig nie.
Dis ’n vreemde, vaal en plek-plek selfs vervelige fliek.
Eastwood wou blykbaar beklemtoon dat Hoover se behoefte aan bewondering sy interpretasie van gebeure heeltemal verkleur het.
Hy slaag wel daarin, maar intussen bly die kyker in die donker, want die onderskeid tussen die werklikheid en dít wat Hoover opgedis het as selfvleiende waarhede, word veels te laat geopenbaar.
Die twee hoofspelers vaar goed, met veral DiCaprio wat duidelik die ware Hoover se eksentrisiteite en maniere ingestudeer het.
Dis egter jammer daar is besluit om dié twee jong akteurs ook die rolle van die bejaarde Hoover en Tolston te laat speel. In plaas van die ware mense, sien jy slegs die akteurs onder hul dik lae grimering en gesig-prosteses. Plooie kan jy nog aanplak, maar jong oë kan jy nie wegsteek nie.
Van ’n regisseur van Eastwood se kaliber verwag ’n mens altyd grootse dinge. J. Edgar is egter ongetwyfeld die swakker pyl in sy koker.
Ouderdomsperk: 137 minute. Tydsduur: 13V.
- Soortgelyke prent: The Aviator

Leonardo DiCaprio (links) en Armie Hammer speel die rolle van J. Edgar Hoover, hoof van die FBI, en sy assistent Clyde Tolson in Clint Eastwood se biofliek J. Edgar.