‘Hanna Hoekom’ ’n hoogtepunt vir SA
2010-08-13 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom
Drama
Met: Anna-Mart van der Merwe, Gys de Villiers, Anneke Weidemann en ander.
Regie: Regardt van den Bergh.
Steek aan die vreugdevure: Hier het ons ’n eiesinnige, karaktervolle Afrikaanse prent gesuiwer van smarte en laste.
’n Prent wat die Afrikaanse kyker bevry uit die onwelriekende kleinhuisie, waar hy lánk gehok was.
Maar bowenal stel Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom ’n moderne Suid-Afrikaanse leefwyse aan die orde, met karakters en situasies waarin jy kan glo en waarin jy jou met herkenning kan verdiep.
Die karakters praat soos mense praat, nie soos ’n draaiboekskrywer dink hulle behoort te klink nie. Vergeet van platvloersheid en kômmin is lekker en sê hoera vir Hanna, die regisseur Regardt van den Bergh en sy span akteurs – veterane van ons verhoë en silwerdoek en ’n blinknuwe geslag waarvan daar gehoor gaan word.
Beginne by Hanna, sy is die verteller van die prent. ’n Eiewyse tiener wat droom sodra sy haar oë oopmaak. Sy leef in die omarming van haar uitgebreide, aangelapte gesin.
Haar kunstenaar-ma, stiefpa wat ’n afgetrede akteur is, haar boetie wat sy lewe in ’n proefbuis begin het en haar twee stiefboeties. En daar is nog ’n sib op pad.
Dan kom kuier haar biologiese, gay pa én haar stiefpa se vorige vrou (die ma van haar stiefboeties) én Hanna se vriendin, wat terstond net leepoë vir haar stiefbroer het. Die skille val van Hanna se oë en sy sien haar stiefbroer skielik anders en sommer so ook die hele troppie.
Als speel af in ’n berghut op ’n afgeleë plaas waar Hanna en haar gesin vakansie hou. Bedompig en kloustrofobies? Hier gaan mos baie issues lug kry. O, ja, en hóé. Altyd snaaks, veerlig en eg.
Van den Bergh speel die dramatiese interaksie af met speelse animasie-reekse waarin Hanna, ’n ywerige skrywer, se verbeeldingsvlugte uitgebeeld word. Dit verskaf ’n dromerige realisme en plaas die gegewe in ’n gans ander dimensie.
Die eerste lof vir dié skitter-prent kom Marita van der Vyver toe, wat die nou gewilde jeugroman gepen het. Sy is in 2002 met die Sanlamprys (goud) vir jeuglektuur bekroon daarvoor.
Ook die draaiboekskrywer (en regisseur in eie reg) Gustav Kuhn wat dit verwerk het. Om te dink dat die meeste plaaslike prente sonder ’n behoorlike draaiboek geskiet word. Die skelet van die prent was dus vanuit die staanspoor in plek.
Die spel is in elke geval uitsonderlik: Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers is soos die magnetiese kern van die prent. Hul gemaklike samespel en vinnige humor is lieflik om te beleef. Anneke Weidemann se Hanna is tipies tiener: verwonderd en blasé.
Weidemann is uitstaande en dra die prent asof dit ’n briesie in haar hare is. Eweneens is Dawid van den Bergh ’n plesier om te aanskou en so ook die twee “klitse” Christopher van der Westhuizen en Justin Carlse. Die twee laat jou ineenvou van lag.
Tertius Meintjies en Helène Lombard sorg vir die hartroerendste toneel en die guitigste oomblikke in die prent.
Hanna Hoekom is ’n hoogtepunt van ons plaaslike rolprentkuns. Dit is ’n prent wat jou beker laat oorloop en jou laat besef hoe lank daar ’n gemis na so iets in Afrikaans was.
– Laetitia Pople
Ouderdomsperk: 10.
Tydsduur: 90 minute.

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom gaan jou hart sommer warm laat klop.
Foto: TERTIUS MEINTJIES