Jack and Jill
2012-02-03 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Jack and Jill
Komedie
1/4
Met Adam Sandler, Katie Holmes, Al Pacino en ander
Regie: Dennis Dugan
Indien plofbare spoelmaag-insidente en ander skatologiese grappies deel van jou idee van “fliekpret” is, sal Jack and Jill jou hunkerings met kolskote bevredig.
Adam Sandler het met dié fliek ’n nuwe laagtepunt in sy loopbaan ontgin. Ontgin, ja, want sulke uitbeeldings kom nie vanself nie. Dis simptomaties van ’n siek gees.
Onder sy teikengehore – hoofsaaklik Amerikaners – het die lagmeters sonder twyfel hoë frekwensies bereik, maar ’n mens kry kleuters en kinders jammer wat na dié onsnaakse gemors moet kyk terwyl hul ouers van beter moes geweet het.
Die hele draaiboek voel soos los gerafelde episodes wat nouliks iets met mekaar te doen het.
Met ander woorde, daar’s geen lyn nie, laat staan nog struktuur in die storie van Jack, die suksesvolle advertensie- fliek-vervaardiger, en sy oujongnooi-tweelingsuster, Jill, wat elke Dankseggingsnaweek kom kuier en altyd te lank bly.
Sandler vertolk albei rolle, soos sy voorgangers Martin Lawrence, Eddie Murphy, Robin Williams en andere gewoonlik met meer sukses gedoen het.
Katie Holmes as Jack se vrou en hul twee kinders se rolle verval spoedig in die vergetelheid sodat dié fliek sonder karakterisering gou in ’n beswyming wegsink. Die geheel kom as ’n aaneenryging van smaakloosheid voor.
Effens minder weersinwekkend is Al Pacino, wat homself speel en die onderwerp van Jill se luste word. Al wat sy spel draaglik maak is die tekens van humor wanneer hy sy rolle in Scarface en The Godfather opstuur, maar hy bly te lank in die prentjie.
Sandler se post-moderne grapmakery raak op ’n irriterende manier lank in die tand: oud, kru en kinderagtig.
So word Jill volledig gestroop van haar vroulikheid om ter wille van “komedie” uiters grotesk te word. Ook beledigende rassisme het dié prulwerk nie ontsnap nie.
In ’n ideale wêreld sou enige resensent geroepe voel om aan te beveel dat hierdie drellerige produk nie gesien hoef te word nie.
Ouderdomsperk: OL. Tydsduur: 91 minute.
- Soortgelyke fliek: Norbert.

Adam Sandler speel die dubbele rol van Jack en sy tweelingsuster Jill in die onsnaakse komedie Jack and Jill.