Klankboks
2012-01-13 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op

G’n unieke vertolking
Susan Boyle
Someone to Watch Over Me
3/5
Danksy die reeks Britain’s Got Talent het die aardse Susan Boyle oornag ’n plaatkontrak en ’n musiekloopbaan losgeslaan. Die omslagplakker beloof dat hierdie een – haar derde solo-album – “epies” is.
In die CD-boekie bedank sy verskeie mense, onder andere haar stemafrigters, wat haar gehelp het om meer “emosioneel volwasse” te word. Daar is min daarvan in die tien cover versions te hoor. Dit klink of Boyle nie die gawe het om ’n liedjie haar eie te maak en die luisteraar emosioneel te oorrompel nie.
Haar opnames van Lilac Wine en Both Sides Now is voorbeelde van die gebrek aan ’n unieke vertolking.
Sy is wel geseën met ’n gawe sangstem, en danksy haar produksieleier luister ’n mens tog met nuwe ore na Depeche Mode se Enjoy the Silence. Meegesleur? Nee. Slegs vir aanhangers.

Vurigheid opnuut gevind
Gotan Project
Best of Gotan Project
4/5
Dit is skokkend hoe vinnig platemaatskappye deesdae die treffers-albums uitryg – dikwels nadat ’n kunstenaar net twee albums uitgereik het.
Gotan Project het darem al drie die lig laat sien, waaruit hierdie versameling saamgestel is. Daar is darem ook twee nuwe snitte: Checkmate/Jaque Mate en 8 to Love.
Laasgenoemde is ’n louwarm rap-snit met Tumi agter die mikrofoon en bo-oor die klanke van ’n trekklavier en ’n paar elektroniese ritmes. Die tango-elektronika van die groep se debuut, La Revancha Del Tango, is steeds die hoogtepunt van sy loopbaan.
Koop gerus dié een as Gotan na Grieks klink en ontdek die vurigheid wat ontsteek as trekklaviere en tango saam met dub- en elektroniese effekte in die kookpot gegooi word.

Flou dansnamaaksels
Jason Derülo
Future History
2/5
Dié R&B-sanger is een van min in die popbedryf wat ’n liedjie begin deur sy eie naam te skreeu.
Sy “futuristiese geskiedenis” is om dansliedjies soos Robin S. se Show Me Love op te tert en lirieke soos “1 o’clock, 2 o’clock, 3 o’clock, 4, we’re gonna tear the club up, up, up, up, up, up, up, up... ” by te voeg.
Futuristies en oorspronklik? Aikôna. Boonop moet daar dalk nou ’n internasionale popverbod op die misbruik en verkragting van Toto se Africa geplaas word. Dis een van Derülo se ander stukkies leengoed op Fight for You.
Derülo balanseer hom op die albumomslag skynbaar gemaklik op vyf tone. Dis tyd dat hy terug aarde toe kom en sélf liedjies skryf; iets wat meer om die lyf het as ’n deurmekaarklits van treffers van dekades gelede.
Dalk word hy dan ook in die popgeskiedenisboeke opgeneem en dekades later onthou.
