Man on a Ledge
2012-02-03 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Man on a Ledge
Spanning
3/5
Met: Sam Worthington, Elizabeth Banks, Genesis Rodriguez, Jamie Bell, Edward Burns, Ed Harris
Regie: Asger Leth
Die gemiddelde New Yorker op straat is klaarblyklik mal oor ’n stukkie skouspel; iets wat die karakter Nick Cassidy (Sam Worthington) deeglik besef en tot sy voordeel gebruik.
Op ’n gryserige herfsdag bespreek Nick ’n kamer in die Roosevelthotel, bestel ’n luukse ontbyt en klim dan by die venster uit om stelling in te neem op die lysie, 14 verdiepings bo die grond. Wanneer die polisie opdaag maak Nick sy eis duidelik: Hy sal slegs gesels met die polisie-onderhandelaar Lydia Mercer (Elizabeth Banks), of hy spring.
Sy sending? Nick is ’n ontsnapte gevangene en wil sy onskuld bewys. Die besef kom vinnig dat hy nie die deursneë “springer” is nie; hier skuil meer onder die oppervlak. Want aan die oorkant van die straat is ’n jong paartjie, Joey (Jamie Bell) en Angie (Genesis Rodriguez), besig om by ’n hoëveiligheid-gebou in te breek – en hulle is heeltyd in verbinding met Nick.
Man on a Ledge val in dieselfde kategorie as raaiselflieks soos die treffer Inside Man, behalwe dat hy sy kaarte nie heeltemal so naby sy bors hou nie. Die ware skuldiges kan jy redelik gou uitken en daarna is dit net ’n geval van agteroorsit en sien hoe hulle skarrel wanneer Nick se veldtog die nuusagentskappe se aandag trek.
Ondanks ’n redelik voorspelbare verloop is dit ’n genotvolle fliek.
Die spanningslyn kon bietjie stywer gespan het, maar die uitstekende fotografie (al daardie diepteskote!) is genoeg om enige kyker teen die sitplek te laat terugbeur. Worthington en Banks vaar goed; tog word hulle getroef deur die plesierige vonk tussen die twee jong klouterdiewe.
Tussendeur hul ietwat lomp pogings om ’n gevorderde veiligheidstelsel te fnuik, grinnik jy keer op keer vir die verliefdes se spitsvondige (en seksueel gelaaide) skertsery.
Ed Harris oorspeel effens as ’n diamant-magnaat met ’n gróót geraamte in die kas. Sy karakter se vloermoer-persoonlikheid maak dit wel moeilik om hom as ’n gevaarlike boef te sien; jy wil hom eerder ’n goeie pak slae gee.
Man on a Ledge gaan jou dalk nie deurgaans op die punt van jou stoel hou nie, maar dit sal jou heel moontlik met ’n tevrede glimlag daaruit laat opstaan.
Ouderdomsperk: 13TG. Tydsduur: 103 minute.

Sam Worthington is ’n desperate man met ’n punt om te bewys in die spanningsfliek Man on a Ledge.