Nuwe musiek
2012-02-03 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op

Robbie sing beste op eie, Engelse liedjies
Robbie Klay
Amazing
2/5
As daar een ding van Robbie Klay gesê kan word, is dit dat hy deursettingsvermoë het.
Sy jongste album is propvol liedjies oor vuurwarm liefde en met komplimente van hoe wonderbaarlik “hy” “haar” vind.
Die lirieke is ook propvol cliché’s en deurspek van Engelse woorde. Dis veral die woord “amazing” wat besonder gewild is. Wanneer hy in Engels sing maak dit meer indruk; ook wanneer hy sy eie liedjies sing. Twee voorbeelde wat werk, is Together en I Wanna Hold You.
Dalk moet hy sy perd opsaal, kitaar onder die arm knyp en hom in die country-wêreld tuismaak vir werklike sukses.
- Mariana Malan
Kongos
Lunatic
5/5
Streng gesproke is die Kongos nie ’n Suid-Afrikaanse groep nie, maar hierdie gegewe is bloot geografies.
Die groep se lede het deels in Suid-Afrika grootgeword en maak deesdae meestal musiek in die VSA.
Johnny, Jesse, Dylan en Danny Kongos is die seuns van die Suid-Afrikaanse liedjieskrywer en sanger John Kongos. ’n Seker teken daarvan dat hulle weet waar hul wortels lê, is dat hulle nou besig is met ’n Suid-Afrikaanse toer, wat in Desember begin het en steeds aan die gang is.
Waar hulle ook gaan skep hulle vir hulself ’n sterk ondersteunersbasis hier “by die huis”.
As ’n mens jou ’n soort vermenging van The Beatles en The Gotan Project kan voorstel, kan jy ’n idee vorm van die Kongos se klank. Wanneer jy die CD in jou speler druk is dit die radiotreffer Come With Me Now wat onmiddellik jou aandag trek.
Met ’n stampende ritme en effens waan- sinnige akkordeon is hierdie snit geen sluiper nie.
Een Amerikaanse aanhanger het opgemerk die Kongos het die soort klank wat ’n groot groep mense, soos by ’n motorfietssaamtrek, sal kan oprui. Ek stem saam; hierdie element tref jy ook aan in die ander radiosnit, I’m Only Joking. Die sterk ritme in baie van die snitte het ’n element van daardie waansin wat almal binne ’n groep gou aansteek. Dít tel jy ook op in Hey I Don’t Know.
Tog is al die snitte nie ewe energiek nie.
This Time I Won’t Forget weerklink met ’n amperse marsritme en ’n nostalgiese geneurie en Travelling On fluister sag en teer.
Lunatic is bipolêr. Dit het ’n gevarieerde, tog uiters herkenbare klank wat maak dat jy nie gou genoeg daarvan kan kry nie en die verwerking is van internasionale gehalte.
Jy sal mal wees daaroor.
- Anna-Retha Bouwer
