Storie oor kanker alte vrolik
2012-01-13 06:00
A Little Bit of Heaven
Romanse
Met: Kate Hudson, Gael García Bernal, Lucy Punch en Kathy Bates.
Regie: Nicole Kassell
Wanneer ’n terminale siekte reeds aan die begin van ’n romantiese “komedie” by die heldin in ge-
diagnoseer word, sou ’n mens dink jy kan maar regsit om ’n hele paar trane weg te pink.
Nie soseer in dié fliek nie, tensy jou traankliere baie vlak lê.
Die keersy van die munt is dat jy jou ook nie slap gaan lag nie, want die humor is ook nie sterk genoeg daarvoor nie.
Die storie loop só: Marley Corbett (Kate Hudson) is ’n borrelende en suksesvolle vrou wat by ’n advertensie-agentskap werk en ’n fobie vir romantiese verbintenisse het.
Sy verkies haar seks sonder komplikasies. Wanneer sy al hoe sieker voel, gaan spreek sy ’n dokter en kolonkanker word by haar gediagnoseer.
Haar dokter is die aantreklike Meksikaanse Jood Julian Goldstein (Gael García Bernal) en Marley hou daarvan dat hy so reguit praat. Die twee loop mekaar een aand by ’n jazzklub raak en ’n verhouding ontstaan.
Natuurlik is dit vol struikelblokke, waarvan die minste die etiese implikasies van die verhouding tussen pasiënt en dokter blyk te wees.
Tussendeur het Marley visioene van God – in die gestalte van Whoopi Goldberg – waartydens die twee in die hemel op ’n wit rusbank geselsies maak. Dié gesprekke help Marley klaarblyklik om haar stryd met die terminale siekte met optimisme en vrolikheid aan te durf.
Sy ís immers banger vir die liefde as vir die dood?…
Voordat Marley die tydelike met die ewige kan verwissel, is daar ook nog ’n paar goedjies wat sy hier op aarde moet afhandel, onder meer om vrede te maak met haar geskeide ouers, Beverly (Kathy Bates) en Jack (Treat Wil-liams).
Die fliek is nie een wat mens se asem wegslaan nie. Dis ook nie een wat mens ná die tyd oor koffie en ’n stuk kaaskoek wil sit en bespreek nie.
Dis springmielie-vermaak, wat hoogstens ’n gangbare manier is om die ledigheid te verdryf.
Die spel is, net soos die storie, middelmatig.
Trouens, die kanker-storielyn word baie oppervlakkig uitgebeeld en daar is nie werklik sprake van die ware lyding en stryd wat iemand met terminale kanker voer nie.
Daar word dalk te ligvoets daaroor gewip en die storie sou hom moontlik tot ’n dieper en meer geloofwaardige romantiese drama kon leen, indien dit meer realisties aangepak is.
– Amanda de Lange
Ouderdomsperk: 13S. Tydsduur: 106 minute.
- Soortgelyke fliek: Sweet November