‘Survivor’ se 19de konkel in Samoa
2012-01-13 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Mens sou dink ná 18 seisoene van Survivor sal volk en vaderland teen dié tyd al uitgekyk wees, maar toe nie.
En Maandag 23 Januarie om 20:00 is dit tyd vir die 19de reeks, wat op SABC2 begin.
Survivor: Samoa is volgens die vervaardigers op een van die mooiste bestemmings tot nog toe geskiet.
Dink aan wit strande, lowergroen valleie en watervalle wat die asem wegslaan.
As ’n mens dan êrens gestrand moet wees, is dít seker die ideale plek.
Die resep is dieselfde: 20 “skipbreukelinge”, 39 dae – en ’n vet prystjek. Jeff Probst is oudergewoonte aan die stuur van sake en die kinkel in die kabel is dat elke stam sommer met die intrapslag ’n stamleier moet kies wat die kitaar gaan slaan.
Die meeste van die deelnemers is oudergewoonte mooi mense en jy kan jou gunsteling kies van onder andere ’n sjef, ’n haarkapper, ’n T-hemp-ontwerper en ’n vuurpylwetenskaplike, wat besonder sag op die oog val.
Die vonke gaan spat en vir die prysgeld sal die deelnemers selfs hul dieet aanpas.
As jy dus gewonder het hoe smaak rot, maak seker jy loop nie Survivor: Samoa mis nie.