Underworld: Awakening
2012-01-20 06:00
Aksie, fantasie
2/5
Met Kate Beckinsale, Stephen Rea, Michael Ealy, Theo James, India Eisley
Regie: Marlind & Stein
Hierdie prent is die derde avontuur van die beeldskone vampierkryger Selene (Kate Beckinsale); die eerste keer in 3D.
Die storie is nie sterk nie en was nog nooit nie; dis bloot ’n nimmereindigende siklus van wraak en nogmaals wraak. Die Lycans (weerwolwe) het Selene se ouers vermoor en sy wil bloed sien vloei.
Die krag van die prent, en die reeks, lê in die uitstekende uitbeelding van ’n donker, apokaliptiese wêreld waarin mense (van vlees en bloed) soos opdrifsels na die rand geskuif is. Die spil van die verhaal is die voortslepende oorlog tussen die vampiere en die Lycans.
Van die openingstoneel is jy binne-in die aksie. As jy adrenalien wil hê is dít jou prent.
In Awakening ontwaak Selene uit ’n sluimering van 12 jaar (immermooi en sonder ’n plooitjie).
Die geveg tussen die twee onsterflike stamme het meer intens geraak. Boonop is daar ’n bose wetenskaplike op die toneel wat iets geskep het wat selfs ’n deurwinterde fliekvlooi ’n naar kol op die maag sal gee. Selene lyk soos Dawid teen dié Goliat. Daar is nog ’n troefkaart en ’n wending wat die derde prent ’n skoot menslikheid gee en darem ’n bietjie onvoorspelbaarheid.
Ná agt jaar het die reeks sy byt verloor. ’n Mens kan net so lank kyk na Selene se hoogskoppery in stadige aksie.
Maak maar reg vir die volgende fliek, want hierdie een se einde is swanger met moontlikhede.
Ouderdomsperk: 16TG. Tydsduur: 86 minute.
- Soortgelyke prent: Resident Evil.