2,7 m. Franse betoog teen Sarkozy-planne
2010-09-08 21:48
Een van die grootste stakings in die Franse geskiedenis het pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk kniediep in die moeilikheid.
Volgens die vakbonde het tot 2,7 miljoen werkers gister in die strate van Parys en ander stede betoog teen die regering se planne om die aftree-ouderdom van 60 tot 62 te verhoog.
Die pensioenstelsel het heeltemal onbetaalbaar geword.
Diegene wat ná 1945 gebore is, het reeds afgetree of doen dit een van die dae.
Hulle is opgevolg deur ’n beduidende kleiner volgende geslag, wat beteken dat al hoe minder jongmense al hoe meer oues moet onderhou.
Die regering wil ook €100 miljard (sowat R923 miljard) in die volgende drie jaar besnoei om die begrotingstekort uit te wis.
7 000 onderwysersposte moet onder meer afgeskaf word en sommige onderwysers het vandeesweek ook daarteen begin staak.
Terselfdertyd probeer Sarkozy die bitter pil versoet deur allerlei populistiese maatreëls, wat die toenemende xenofobie in die land voed.
Hy het byvoorbeeld ’n paar duisend sigeuners uit die land geskop en berei ’n verbod op die dra van sluiers deur Moslem-vroue in openbare plekke voor.
Dis reeds in Julie deur die nasionale vergadering goedgekeur en word binnekort in die senaat bespreek.
Die wetsontwerp maak voorsiening vir boetes van €150 (sowat R1 385) vir vroue wat oortree en €30 000 (sowat R277 000) en ’n jaar tronkstraf vir mans wat hul vroue dwing om ’n sluier te dra.
Daarby word gewerk aan ’n wetsontwerp om die burgerskap van Franse burgers van immigrante-afkoms wat polisiebeamptes se lewe bedreig, weg te vat.
Desondanks daal Sarkozy se gewildheid steeds.
Volgens ’n peiling keur 73% van die Franse die betogings goed. Bowendien gaan die regering gebuk onder talle korrupsieskandale.
Sarkozy het gister in ’n verklaring gesê hy sal klein veranderings aan sy pensioenplanne aanbring, maar nie op die beginsel toegee nie.