Aarde se bewing lei tot miljarde se skade
2010-09-05 22:23
Die skade aan die infrastruktuur van Christchurch in Nieu-Seeland word op nagenoeg R10 miljard geraam ná die aardbewing eergisteroggend.
Die rollende aardbewing omstreeks 04:30 het mense van dié stad en streek met ’n skok wakker geruk.
Talle het na buite gevlug en in hul motors gesit en wag vir die naskokke om te bedaar.
Ander het in hul beddens geskuil en wag vir die dag om te breek.
Sommige het net-net oorleef waar ’n dak of ’n muur ingeval het, en kon later hul storie op TV vertel.
Die stad en sy inwoners is baie gelukkig – die aardbewing het 7,1 op die Richterskaal geregistreer en tot dusver is geen ongevalle aangemeld nie, hoewel ’n paar mense ernstig beseer is.
Die krag daarvan was gelykstaande aan dié een in Haïti in Januarie, maar verder kan die gevolge nie vergelyk word nie.
Toe dit lig word eergister het die skade duidelik geword.
Strate is opgefrommel en padoppervlaktes oopgeskeur.
Water en rioolafval het uit gebarste ondergrondse pypleidings geborrel.
Talle huise en honderde geboue, veral in die middestad, sal gesloop moet word.
Ander veral historiese geboue sal met groot moeite en koste herstel moet word.
In supermarkte, biblioteke en ondernemings lê kosvoorraad, rekenaars, TV-stelle, boeke en boekrakke gesaai tussen glasstukke en bourommel.
Die kragnetwerk is ook geraak, maar teen gister het die grootste deel van die stad weer krag gehad.
’n Derde van Christchurch is egter sonder water, en miljoene liter water is per spoor daarheen vervoer nadat die hoofspoorlyn veilig verklaar is.
’n Aandklokreël geld tans in die sakekern en gebiede wat die ergste geraak is.
Skole, kantore en ondernemings en ook die Universiteite van Canterbury in die stad, en Lincoln in die distrik, sal nog ’n paar dae lank gesluit wees.
Tot dusver moes 240 mense hul huise verlaat, maar dit sal waarskynlik meer word.
Uiteindelik sal talle inwoners se huise gesloop en herbou moet word.
Nieu-Seeland lê op ’n verskuiwingslyn tussen twee plate.
Die land wag al lank vir die groot aardbewing wat ’n stad in puin sal lê.
Daar is nog altyd verwag dat dit Wellington sou wees.
Dit was egter toe Christchurch, die Tuinstad, wat deurgeloop het.

’n Inwoner loop verby beskadigde winkels in Christchurch. Opruimingsoptrede ná die aardbewing (wat die meeste skade in 80 jaar aangerig het) is belemmer deur sterk naskokke en stormsterk winde. Foto: Iain McGregor, Reuters

’n Seun op ’n skaatsplank benut die skeefgetrekte pad in Paiapoi, 20 km suid van Christchurch, Nieu-Seeland, nadat ’n aardbewing van 7,1 op die Richterskaal dié stad eergister getref het. Geboue het ineengestort, paaie het gekraak, spoorlyne is verwring en ’n nuwe 3,5 m wye verskuiwingslyn is in die aarde se oppervlak geruk, het amptenare gister gesê. Foto: Rob Griffith, AP