België kan skeur ná dooiepunt
2010-09-06 22:16
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Den Haag. – België se einde doem aan die horison op nadat die vyf partye wat in Junie onderhandel het oor ’n regeringskoalisie geen ooreenstemming kon bereik nie.
’n Skokgolf het deur die land getrek toe me. Laurette Onkelinx, leier van die Franstalige Parti Socialiste (PS), Sondagaand in die TV-program La dernière heure (“Die laaste uur”) gesê het: “Ons moet alle scenario’s oorweeg, ook die verdeling van die land.”
Die felste teenstanders van ’n skeuring in ’n onafhanklike Nederlandstalige Vlaandere en ’n Franstalige Wallonië is onder die Wale, met die PS voorop.
Dat een van húl leiers nou sulke geluide maak – uit wanhoop – sê baie.
Die breekpunt in die onderhandelinge was die toekoms van Brussel en die dorpe rondom die stad.
Volgens die Belgiese staatstelsel is Vlaandere eentalig Nederlands; Wallonië eentalig Frans; en Brussel is tweetalig.
In die praktyk bewoon Franssprekendes Brussel egter oorweldigend.
Soos elders ter wêreld kry ’n mens hier ook ’n oorspoel van die stedelinge na die omliggende plattelandse dorpe, dus het die bevolkingsamestelling dáár die laaste dekades sodanig verander dat sommige dorpe nou al ’n meerderheid Wale het van wie sommige ingevolge ’n spesiale reëling vir Franssprekende partye mag stem.
Dit moedig egter die verfransing van die Vlaamse dorpe rondom Brussel aan.
En dus wou die Nieuw-Vlaamse Alliantie (N-VA), die belangrikste Vlaamse party, ’n einde hieraan maak.
In ruil wou die Wale egter ’n massiewe geldelike inspuiting vir Brussel hê, wat die Vlaminge nie wou gee nie.
Daar is twee moontlikhede, sê kenners: Óf een kant gee toe óf hulle begin oor die verdeling van die land onderhandel.