Chili-mynwerkers skep moed
2010-09-03 00:06
Santiago. – Die 33 vasgekeerde mynwerkers in Chili het eergister weer moed geskep nadat musiek en warm maaltye aan hulle verskaf is.
Terwyl die reddingsboor nader aan hulle beweeg het, het raadgewers van die ruimte-agentskap Nasa hulle raad gegee om daglig-ontneming te hanteer.
Mnr. Andres Sougarret, hoofingenieur van die reddingspoging, het gesê die boorwerk is eergister tydelik gestaak om die nuwe skagmuur met beton te versterk nadat ’n krakie in die rots opgemerk is.
’n Nuwe video wat deur die mynwerkers geskiet en Dinsdag op Chileense TV gewys is, wys dat die mans skoongeskeer is, skoon klere dra en na ’n tropiese liedjie luister.
Die mans in die videomateriaal lyk heel anders as die moeë, modderbesmeerde mans met kaal bolywe in die eerste video wat verlede week gemaak is. Die mynwerkers is al 27 dae lank in die San José-myn in Copiapó in die noorde van Chili vasgekeer.
Die Nasa-kundiges het eergister by die myn aangekom om hul kennis te deel oor hoe om die mans sielkundig en fisiek gesond te hou.
Hulle het die mynwerkers se deursettingsvermoë geloof.
“Ons is baie beïndruk deur hul moed en hoe hulle hul in baie moeilike omstandighede ingerig het,” het dr. James Michael Duncan, Nasa se onderhoof van mediese dienste, gesê.
’n 30 t-boormasjien is sedert Maandag besig om stadig na die mynwerkers te boor in ’n reddingspoging wat na raming drie tot vier maande sal duur.
Water, kos en ander voorraad word verskaf deur drie vuisgrootte skagte wat na die mans geboor is.
Die owerheid het begin om die mans teen onder meer griep en longontsteking in te ent om siektes te keer.
Luidens ’n mediese verslag wat Dinsdag opgestel is, het vyf mans spysverteringsprobleme en ’n paar gevalle van slaapversteuring is ook aangeteken.
Die mans het na ’n droër plek omtrent 300 m dieper in die myn gegaan nadat sommige swaminfeksies en lyfsere in die warm, bedompige gebied opgedoen het.
Die mynwerkers het vier waterbronne opgespoor waarvan twee geskik is vir menslike gebruik.

Rys, frikkadelle, vrugte, kaas en brood is aan die vasgekeerde myners gestuur.
Foto: REUTERS
– Sapa-AFP