Dít is wat vroue wil hê – geld en sukses
2011-01-09 21:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Wat soek die gemiddelde Westerse vrou in die man met wie sy wil trou?
Geld en goeie loopbaanvooruitsigte.
Dít blyk uit ’n studie deur dr. Catherine Hakim van die London School of Economics, het die Daily Telegraph gister berig.
In ’n verslag van 52 bladsye wat pas uitgereik is, sê Hakim ondanks dekades van sosiaal-politieke hervormings om gelykheid tussen die geslagte te bevorder het vroue se finansiële afhanklikheid van hul mans “niks van sy sjarme verloor nie”.
“Vroue se aspirasie is om boontoe te trou, as hulle kan, met ’n man wat beter opgelei is, meer verdien, en dit geld die meeste Europese lande,” het Hakim bevind.
Haar ontleding van Britse statistieke wys dat 20% van alle vroue in 1949 met mans getrou het wat beter opgelei is en meer verdien het as hulle.
Teen die laat 1990’s het dit byna verdubbel tot 38%.
Soortgelyke syfers geld die res van Europa, die VSA en Australië.
Luidens die verslag koester ’n klein elite die ideaal van geslagsgelykheid, maar die meeste egpare deel dit nie.
Volgens Hakim besluit sulke egpare op rasionele gronde dat die man die hoofverdiener sal wees en dat die vrou die belangrikste opvoeder van die kinders sal wees.
Die voorspraak vir geslagsgelykheid beteken wel dat vroue nie wil erken dat hulle geld en goeie loopbaangeleenthede in ’n man soek nie.
Hulle hou dit selfs vir hul man geheim.
“Dit het onmoontlik geword om te sê ‘ek wil liewer ’n huisvrou wees’.
Dis so polities inkorrek dat baie vroue dit nie wil erken nie.”