Falkland: Argentyne sê Britte wil aanval
2012-02-09 22:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Met die 30-jarige herdenking van die Falkland-oorlog binne ’n paar weke het die Argentynse regering met ’n woorde-offensief teen Brittanje begin.
Pres. Cristina Kirchner het selfs gesê dat haar land die “onwettige” Britse besetting van die Islas Malvinas, soos die Falklandeilande in Argentinië bekend staan, by die Verenigde Nasies aanhangig gaan maak.
Sy het gesê Brittanje “militariseer” die Suid-Atlantiese Oseaan omdat Brittanje die torpedojaer HMS Dauntless, een van sy modernste oorlogskepe, daarheen gaan stuur. Die Britte het gesê dit is ’n normale rotering van oorlogskepe.
Hy hou al sedert die oorlog ’n oorlogskip in die omgewing.
Mnr. Arturo Puricelli, Argentynse minister van verdediging, het die Britte beskuldig dat hulle ’n militêre aanval op sy land beplan en gesê Argentinië sal homself verdedig as dit gebeur.
Hy het sarkasties verwys na prins William se ontplooiing na die Falklandeilande as lugmag-helikoptervlieënier en gesê: “Ons het internasionale verdrae geteken wat ons verplig om prins William te help as hy ’n probleem het. Dis onnodig om ’n oorlogskip te stuur.”
Intussen het mnr. Jorge Argüello, Argentynse ambassadeur in die VSA, in ’n brief in The New York Times ontken sy land beplan ’n nuwe aanval op die eilande.