Ghaddafi predik Islam se deugdes aan modelle
2010-09-02 00:10
Die Libiese diktator kol. Moeammar Ghaddafi het homself opnuut baie ongewild in Italië gemaak.
Luidens berigte in die Europese media het hy op sy pas afgelope besoek aan Italië sowat 500 modelle teen €50 (sowat R466) tot €80 (sowat R745) elk gehuur om ’n byeenkoms by te woon wat hy toegespreek het.
Tydens sy toespraak het hy die vroue vertel die Islam is baie beter as die Christendom, dat die Christelike geloof “irrelevant” is en dat Europa die
Islam moet aanvaar.
Hy was, soos gewoonlik, vergesel van twee beeldskone jong vrouelyfwagte in uniform.
Ghaddafi het eksemplare van die Koran as geskenk gegee aan drie van die modelle wat glo op die plek tot die Islam bekeer is. Almal het ’n eksemplaar van sy “Groen Boek”gekry wat sy politieke filosofie bevat.
Sekere van die modelle was agterna verontwaardig omdat hulle niks te ete of te drinke gekry het nie.
Dit was die tweede keer dat Ghaddafi die Islam in Italië aangeprys het.
In Junie verlede jaar het hy 700 Italiaanse sakelui en vrouepolitici uitgenooi na ’n lesing waarin hy die Islam se houding teenoor vroue gekritiseer het, maar ook gesê het mans moet besluit of hul vroue mag motor bestuur.
Dit was Ghaddafi se vyfde besoek vanjaar aan Italië, waarmee Libië hoogs winsgewende handelsbande het.
Die affêre het groot opslae in die Italiaanse media gemaak.
’n Woedende Il Messagero het in ’n hoofartikel gevra: “Wat sou gebeur as ’n Europese staatshoof na Libië sou gaan en almal aanmoedig om Christene te word?”
Mnr. Rocco Buttiglione, ’n konserwatiewe Rooms-Katolieke politikus, het gevra: “As ek na Tripoli sou gaan om te eis dat Libiërs Christene word, wat is die kans dat ek in een stuk terugkeer?”

’n Vrou praat met die media by haar aankoms vir ’n vergadering met kol. Moeammar Ghaddafi, Libiese leier, by ’n Libiese sentrum in Rome, Italië.
Foto: Max Rossi, REUTERS