Hernude oproer, plundery breek uit in Mosambiek
2010-09-03 22:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Maputo. – Hernude oproer het gister in die Mosambiekse hoofstad uitgebreek ná twee dae van onluste oor hoë kospryse waarin minstens sewe mense dood is.
Dit was gister aanvanklik kalm, maar die polisie het gesê betogers het begin om in die buitewyke van die stad te plunder en beamptes het rubberkoeëls gebruik om hulle uiteen te dryf.
Daar was nie onmiddellike berigte van beserings nie.
Oproer het ook in Chimoio, 760 km noord van Maputo, uitgebreek waarin ses mense gewond is toe polisielede op hulle geskiet het.
“Twee van die gewondes is in ’n ernstige toestand,” het me.
Teresa Inacio, ’n verpleegster by die Chimoio- provinsiale hospitaal, gesê.
Mnr. Antonio Fernandes, minister van handel en nywerheid, het aan die staatsbeheerde Radio Mozambique gesê die skade
sedert Woensdag word al op R23,7 miljoen geraam. Daar was volgens hom sewe sterftes en 288 mense is beseer.
Opposisiepartye en menseregtegroepe het die regering gekritiseer omdat hy nie die woede kon voorsien wat die 30%-styging in die broodprys en die styging in die water- en elektrisiteitstariewe sou ontketen nie.
Met die verhoging kos ’n broodrolletjie, ’n stapelvoedsel vir Mosambiekers, nou R1,43 in ’n land waar die gemiddelde werker sowat R265 per maand verdien.
Mosambiekers het gesê hulle is swaar getref deur die stygende prys van brood en ander basiese goedere terwyl die wêreldkoringprys kwaai styg, maar die regering het gesê die stygings sal nie omgekeer word nie.
Droogte en brande in Rusland, die wêreld se derde grootste uitvoerder van koring, asook ’n verbod op die uitvoer van koring uit dié land tot laat volgende jaar, het die koringprys die hoogte laat inskiet.
Mosambiek steun ook swaar op invoer van Suid-Afrika wat die laaste maande duurder geword het weens die versterking van die rand.
– Reuters