Hokaai met wet – Morgan
2010-02-10 23:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Mnr. Morgan Tsvangirai, MDC-leier en Zimbabwiese premier, het gister vinnig die demper geplaas op ’n aankondiging dat alle wit sakelui in Zimbabwe wat nie die beheer van hul maatskappye aan swart vennote oordra nie, in die tronk gestop sal word.
Zimbabwe se departement van jeugontwikkeling, verinheemsing en bemagtiging het eergister in die Staatskoerant aangekondig die nuwe wet tree op 1 Maart in werking.
Tsvangirai het dit verwerp.
Wit sakelui wie se maatskappye bates van meer as $500?000 het en nie binne vyf jaar 51% van hul belange aan “inheemse Zimbabwiërs” oordra nie, kan ingevolge die nuwe wet tot vyf jaar tronkstraf opgelê word.
Hulle sal ook net 45 dae tyd hê om aan die regering te verduidelik wie hul aandeelhouers is, wat hul nasionaliteit is en of hulle “inheemse” of “nie-inheemse” Zimbabwiërs is.
Tsvangirai is as premier in die regering van nasionale regering verantwoordelik vir beleidsformulering.
Hy het in ’n verklaring gesê die regering is nie vooraf in kennis gestel dat die wet in die Staatskoerant afgekondig sal word nie.
Die kabinet het dit ook nie bespreek nie.
“Dit is gepubliseer sonder dat die prosedure wat deur die grondwet uitgestippel word, gevolg is,” het hy
gesê.
Tsvangirai het mnr. Savior Kasukuwere, die minister wie se departement vir die publikasie van die wet verantwoordelik is, vir ’n vergadering ontbied.
Hy sal die saak ook met pres. Robert Mugabe bespreek.
Kasukuwere is ’n lid van Mugabe se Zanu-PF wat in 2008 nog die meerderheidsparty in die parlement was toe die wet aanvanklik aanvaar is.
Tsvangirai het gesê die nuwe wet sal buitelandse beleggers afskrik en diskriminerend teenoor swart beheerde maatskappye van buurlande wees.
Dit sal tot groot nadeel van die Zimbabwiese ekonomie en werkskepping wees.
Sedert onafhanklikwording in 1980 het die wit bevolking van Zimbabwe van sowat 200?000 tot sowat 30?000 gedaal en die meeste groot maatskappye in die land is in swart besit.
- Beeld