In die bed met een, op foon met ander
2009-12-15 22:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die gholfster Tiger Woods het SMS’e aan van sy skelm minnaresse gestuur terwyl hy in die bed was met een van sy ander skelm minnaresse.
Me. Cori Rist (31) het gister in ’n onderhoud met die Amerikaanse televisienetwerk NBC se Today vertel hoe Woods in die middel van die nag skelm SMS’e aan ander vroue gestuur het.
“Ek sou in die nag wakker word terwyl hy besig was om ’n SMS te stuur. Ek het hom gevra wat maak hy en hy sou antwoord hy stuur e-posse,” het Rist gesê, berig die Daily Mail. “Ek het die gevoel gehad en het geweet dit was iets belangrikers.”
Rist is een van altesame 11 vroue wat erken het dat Woods verhoudings met hulle gehad het. Sy het hom twee en ’n half jaar gelede by ’n nagklub in Manhattan, New York, ontmoet, berig die Daily Mail.
Rist het later in die onderhoud met NBC in trane uitgebars en Woods se familie en Elin Nordegren, sy vrou, om verskoning gevra.
Sy voel steeds skuldig, het sy op die program gesê.
Rist het vertel hoe Woods haar aanvanklik gejag het en haar toe uiteindelik soos ’n sak patats gelos het toe sy by een geleentheid te besig was om hom vir seks te ontmoet.
Woods het glo aan Rist vertel dat hy nie gelukkig was in sy huwelik van vyf jaar met Nordegren nie, maar hy sal by haar bly omdat sy sy kind verwag. Hy het ook aan haar gesê hy bly by sy vrou omdat hy sy reputasie en beeld reg moes hou.
Volgens Rist het Woods aangebied om haar na Kalifornië, Doebai en Australië te vlieg sodat hulle saam kon wees.
Sy het vertel hoe Woods haar in hotels onder ’n skuilnaam ingeteken het en seker gemaak het dat hy ’n hotelkamer langs haar kry.
“Hy sou my net vertel ‘hierdie is jou kamernommer en dit is onder hierdie naam bespreek’,” het Woods gesê.
Volgens haar was hulle verhouding ’n oop geheim onder sy nabye kennisse en hulle het gehelp om seker te maak dat die geheim nie uitlek nie.
Sy het vir ’n tydperk van ses maande met hom seks gehad en het twee jaar daarna steeds vriende gebly.
Sy het huilend aan NBC vertel die verneukery het ’n slegte impak op haar en haar seun (7) gehad.
“Ek moes saam met my seun sit en vir hom dit verduidelik. Dit was moeilik gewees,” het sy vertel. “Ek is verleë oor wat en gedoen het en voel skuldig.”
Rist ontken dat sy ooit as ’n prostituut gewerk het. Volgens haar het sy in September vanjaar laas met Woods gepraat.
- Beeld